Lekker stap om winter in te lyf
Sluit aan by die stapklub die maand ... jy sal nie spyt wees nie!
Kom klap ‘n toon saam met die Krugersdorp Stapklub om die winter in te wei.
Op 13 Junie gaan stappers die heerlike roete by die Walter Sisulu Botaniese Tuine geniet.
Dit is seker een van die mooiste roetes want daar is nie net staproetes nie, maar moontlik die enigste waterval in Suid-Afrika wat besoekers te voet kan bereik. Die tuine word pragtig in stand gehou, en mens kan kruis en dwars op die wandelpaadjies daardeur stap. Die arende se nes kan ook gesien word, en jy kan hulle dophou terwyl hulle sirkel om te land.
Stappers stap ook af na die dam toe, waar daar ‘n uitkykpunt is om die voëls dop te hou wat kom water drink, of te kyk hoe die eende sirkels op die water maak.
Hier is genoeg wandelpaadjies wat stappers ‘n hele rukkie kan besig hou, en mens kan altyd jou dors gaan les by die restaurant.
Mens kan met die baie steil trappies tot bo, by die waterval uitklim, van waar die rivier sigbaar is. Vandaar word die lekker steil kop uitgeklim tot bo-op die berg waar ‘n pad die stappers om die koppe neem en terugbring na die Tuine toe. Hierdie is ‘n matige stap, met net af en toe ‘n uitdaging teen die koppies uit.
Vir 11 Julie word die roete by Poskoets beplan.
Die roete is sommer hier in die kontrei geleë en loop al met die kruin en hange langs tot by die R28, of andersom tot by die Botaniese Tuin en weer terug. Dit is ‘n redelike maklike roete, heelwat op- en afdraandes, maar ‘n gemiddelde stapper kan dit lekker stap. Dit is ‘n geskiedkundige roete want die Poskoets se roete was aan die voetheuwels van die koppe.
Tot onlangs was die koetsspore nog duidelik sigbaar. Die uitsig is pragtig, en op ‘n mooiweersdag kan die Voortrekkermonument gesien word. Die roete is 10km lank, word redelik goed versorg en is ‘n ideale Saterdagoggendstappie.
Stappers kom by Fruit & Veg by Heritage Square om 7.15vm bymekaar. Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
