Karatekas se medalje-oes
Drie karatekas sal ook later vanjaar aan die Afrika-spele vir karate deelneem.

Die Krugersdorp Karate Klub beleef tot dusver ’n baie goeie jaar.
Sensei Leon van Niekerk borrel behoorlik oor van trots. Hy het vertel dat sy karatekas verlede maand tydens die Suid-Afrikaanse Japanse Karate Vereniging (SA JKA) se nasionale kampioenskappe by die Standard Bank Arena in Johannesburg baie goed gevaar het.
“Ek is reeds 44 jaar by die klub betrokke en ek dink dit is veilig om te sê dit is die grootste medalje-oes nóg.”
Altesaam het 22 karatekas deelgeneem en hulle het daarin geslaag om 17 medaljes, waarvan sewe goud is, huis toe te bring.
“Dit is ’n baie tawwe kompetisie en ek is bly ons het so goed gevaar teen karatekas van verskeie ander provinsies. Dit was vir my ’n baie trotse oomblik.”
Dit het daartoe bygedra dat drie deelnemers gekeur is om later vanjaar aan die Afrika-spele vir karate deel te neem.
Verwante artikels:
• KKC pockets 35 medals at Gauteng open champs
• Sensei and student selected to compete in world cup