Twee plaaslike staproetes vir stappers
Die Stapklub bied aan twee roetes, ideaal geskik vir die koue weer toestand.
Vir Julie en Augustus gaan stappers van die Krugersdorpse Stapklub die Poskoets en Augterberg roetes aanpak.
Poskoets, wat vir 11 Julie beplan word, is sommer hier in ons kontrei geleë, en loop al met die kruin en hange langs tot by die R28, of andersom tot by die Botaniese Tuin en weer terug.
Die Botaniese Tuin is die beginpunt vir die roete. Dit is ’n redelike maklike roete, heelwat op- en afdraandes, maar ’n gemiddelde stapper sal dit lekker kan stap. Dit is ’n geskiedkundige roete want die Poskoets se roete was aan die voetheuwels van die koppe. Tot onlangs was die koetsspore nog duidelik sigbaar. Die uitsig is pragtig en op ’n mooiweersdag kan die Voortrekkermonument gesien word.
Die roete is 10km lank, word redelik goed versorg, en is ’n ideale Saterdagoggendstappie.
Op 8 Augustus sal stappers Augterberg aanpak. Hierdie roete is sommer teen ons dorp. Van die bymekaarkomplek af is dit omtrent 10 minute se ry. Maar dit maak die roete nie minder mooi nie. Die beginpunt is in ’n kloof en daar word met die spruit langs oor die berg gestap. Daar is ’n waterpypleiding en ’n plek waar mense rekspronge doen. Die omgewing is pragtig en die roete is ook plek-plek oopgekap. Waar dit in die verlede dig bebos was, is dit nou mooi en maklik om te stap.
Bo-op die koppe het jy ’n panoramiese uitsig oor die omgewing daar vêr onder. Dit is ’n roete wat aan meeste klublede bekend is.
Stappers vergader by Heritage Square op die hoek van Cecil Knight en Viljoenstraat om 7.15vm en vertrek om 7.30vm. Vir verdere besonderhede, kontak Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.
Verwante artikels:
• Heerlike staproetes vir hart en siel
• Herfs-staproetes verfris die siel
• Begin die jaar met ‘n huppel in jou stap
