Boksers gee voltreffers
Plaaslike opkomende boksers oefen, kompeteer en gradueer.
Wanneer jy by die Krugersdorp-Wes Boksklub instap is die atmosfeer soos iets uit ‘n legendariese boksfilm met die reuk van sweet en slaansakhoue wat deur die saal weergalm.
Kinders van verskillende ouderdomme kom weekliks in hierdie saal bymekaar waar hulle oefen, kompeteer en gradueer.
Die klub spog met ses nuwe gegradueerde boksers wat aan die einde van Julie bewys het dat hulle reg is vir ernstige kragmeting in die kryt.
Die gradering sluit in verskeie toetse wat touspring, sakslaan, goeie bokskennis van posisies, slaantegnieke en die krytreëls insluit.

“Hierdie bokers se ouers wat die geleenheid bygewoon het is super trots op hul kinders,” het Tony Laranja, Krugersdorp-Wes Boksklub se voorsitter gesê.
Tien van die klub se boksers het ook verlede maand aan ‘n ontwikkelingstoernooi deelgeneem wat in Springs aangebied is.
Richard da Silva wat as die beste vegter aangewys is, het die skare op die punte van hulle sitplekke gehou. Hy het uiteindelik met ‘n medalje vir sy vertoning wegstap.

‘n Handjievol boksers soos Bruce Möcher en Juan-Claude Erasmus het hul heel eerste geveg by die ontwikkelingstoernooi gehad.
“Wen of verloor, ons bly baie trots op hierdie boksers wat ons klub se naam hoog hou,” het Laranja gespog.
JP Jardine het ook ‘n opwindende geveg gehad en het soos ‘n kampioen geboks, terwyl Brenden Keys soos die fliekkarakter Rocky Balboa geboks het en die geveg gestop moes word weens ‘n bloedneus.
“Boks is ‘n baie gedissiplineerde sport. Jy moet dissipline hê want jy moet luister wat die afrigter in die hoek vir jou sê.”
Verwante artikels:
• Dié leeu gaan lê nie in die kryt nie
• Boksers se harde werk beloon
• Vinnige vuiste onderweg na Grahamstad
