Vier Quins-spanne op pad na Golden Lions semifinaal
Al vier seniorspanne van Harlequins Rugbyklub dring deur na die Golden Lions seniorliga.
Die Wes-Rand Harlequins Rugbyklub is trots om al vier hul seniorspanne in die Golden Lions Rugby Unie (GLRU) se seniorliga te sien speel dié naweek.
Die o.20-span het skoonskip gemaak by sewe opwarmingswedstryde aan die begin van die jaar. Daarna het hulle aan 13 liga-toernooie deelgeneem en ook daar elke spel gewen.
Die span het met 62 punte op die punteleer geëindig. Deur die loop van die 13 liga-wedstryde het die span 645 punte aangeteken, met slegs 55 punte teen hulle.
“Al die seuns kom uit die omliggende skole en sommiges speel al van ’n baie jong ouderdom af by die klub,” vertel Phillip de Jager, afrigter van die o.20-span.
Die GLRU semifinaal vind dié naweek, 19 September, by die Wes-Rand Harlequins Rugbyklub plaas.
Ockie Olivier, die voorsitter van die klub is baie trots om so ’n sterk span in sy klub te hê.
“Ek is baie dankbaar vir die toegewydheid nie net van die spelers nie, maar ook van die getroue ondersteuners wat ons met elke wedstryd ondersteun.”
Die volgende wedstryde word hierdie naweek gespeel:
• Harlequins o.20-span teen Wes Wits Rugbyklub.
• Harlequins 3de span teen Germiston Simmer Rugbyklub.
• Harlequins 2de span teen Khosa Rugbyklub.
• Harlequins 1ste span teen Wes Wits Rugbyklub.
Nes hul leuse spreek, glo die Harlequins-spanne dat die wenresep tot sukses behels om nooit op te gee nie en nooit terug te staan nie.
Verwante artikels:
• Fun-filled rugby at Rand Leases
• Harlequins dring deur na finaal
