Die Krugersdorpse Stapklub maak reg vir die laaste twee staptogte van die jaar.
Vir 14 November word die Bergheim-roete beplan.
Die roete is naby die Rustenburg-omgewing, met ’n reisafstand van 220km heen en weer, en is aan die voet van die Magaliesberg-reeks.
Dit is skilderagtig mooi en die motors word op die gronde van die Bergheim-vakansieoord geparkeer. ’n Gedeelte van die roete is op ’n redelike gelyk stuk veld van omtrent ’n kilometer lank en dan word daar berg-op gestap.
Daar is twee maniere om op en af te gaan. Met die linkerkantste roete word daar deur ’n droë lopie gestap en dan skerp teen ’n rotsagtige formasie uitgeklim. Dit is nie ’n kransagtige formasie nie, maar dit is beter om daarteen op te stap as af.
Daar is baie mooi bome en plante op die roete en as mens bo-op die kruin kom, kyk jy af op die dam daar onder. Hier vertoef die stappers gewoonlik ’n rukkie, en dan stap hulle regs af deur ’n klofie en anderkant teen die berg af. Hierdie roete het ’n gradering van vyf, het sy moeilikheidsfaktor en is 10km lank.
Die laaste roete vir die jaar, Pelendingwe, word vir 12 Desember beplan.
Hierdie roete is by die Krokodilrivier in die Broederstroom-omgewing. Dit is ’n boomryke roete, met slegs oop kolle op die hoë koppies en die draai van die rivier ver onder die koppe. Die staproete bo-op die koppe loop saam met die rivier se kronkels.
Dit is ’n baie lekker roete, ongeveer 10km lank, maar kan plek-plek nogal baie ruig wees, veral na die reën. Die roete begin en eindig op die geskiedkundige Preller-plaas, en die ou familiebegraafplaas is een van die besienswaardighede op die terugtog. Die opstal is ’n nasionale monument, waar die bekende Eugene Marais ook sy laaste jare deurgebring het. Dit is ook deur die voormalige Atoomenergiekorporasie in die 1980’s en 1990’s gebruik as restaurant waar hoogeplaaste besoekers dikwels onthaal is.
Stappers kom by Heritage Square te Cecil Knightstraat om 7.15vm bymekaar en vertrek om 7.30vm. Vir verdere besonderhede kontak Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.
Verwante artikels:
• Stapprogram vir volgende twee maande
• Climbing Kilimanjaro for Multiple Sclerosis
• Hike for depression in the Burg
