Staproetes vir die herfsmaande
Vir Maart en April bied die Krugersdorpse Stapklub heerlike staproetes aan vir belanstellendes.
Dis weer tyd vir die lede van die Krugersdorpse Stapklub om twee gewilde roetes aan te pak.
Groenkloof is die eerste roete wat vir 12 Maart beplan word.
Dit is een van die klub se gunsteling staproetes wat langs die Pretoria Tuine in die wildreservaat. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ‘n pragtige roete, met sy effens moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ‘n bonus. Daar is verskillende rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas; ‘n fees vir die oog. Veral kinders geniet hierdie roete baie.
Die omgewing is baie mooi, en is bedoel vir diegene wat ‘n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op die roete nie. Jy kan nog ‘n trein daar onder sien verbyry, en daar is verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Hulle het ‘n mooi piekniekterrein waar geparkeer word, en hier word gewoonlik ‘n vleisie gebraai as daar klaar gestap is.
Dan op 9 April word die Poskoets-roete aangepak.
Die roete is sommer hier in ons kontrei, en loop al met die kruin en hange langs tot by die R28, of andersom tot by die Botaniese Tuin en weer terug. Die Botaniese Tuin word as beginpunt gebruik. Dit is ‘n redelik maklike roete, heelwat op- en afdraandes, maar ‘n gemiddelde stapper kan dit lekker stap. Dit is ‘n geskiedkundige roete want die poskoets se roete was destyds aan die voet van die koppe. Tot onlangs nog was die koetsspore duidelik sigbaar.
Die uitsig is pragtig, en op ‘n mooiweersdag is die Voortrekkermonument sigbaar. Die roete is 10km lank, word redelik goed versorg, en is ‘n ideale Saterdagoggendstappie.
Skakel vir Lu Ludick by 083 235 1958 of Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555 vir meer inligting.
Verwante artikels:
• Sluit aan by die stapklub die maand
• Herfs-staproetes verfris die siel
