Poskoets en Hennops vir stappers
Die herfsson is dalk presies wat jy nodig het om jou kragte te herwin vir die winter.
Dié wat lus het om die herfsweer in volle glorie te ervaar, word aangeraai om by die Krugersdorpse Stapklub aan te sluit.
Twee roetes word beplan en beloof om stappers vir oulaas die warm herfsson te laat voel.
Die eerste roete, Poskoets, word vir 9 April beplan.
Die roete is sommer hier in ons kontrei, en loop al met die kruin en hange langs tot by die R28, of andersom tot by die Botaniese Tuin en weer terug. Die Botaniese Tuin word as beginpunt gebruik. Dit is ‘n redelik maklike roete, heelwat op- en afdraandes, maar ‘n gemiddelde stapper kan dit lekker stap. Die poskoets se roete was destyds aan die voet van die koppe. Tot onlangs nog was die koetsspore duidelik sigbaar.
Die uitsig is pragtig, en op ‘n mooiweersdag is die Voortrekkermonument sigbaar. Die roete is 10km lank, word redelik goed versorg, en is ‘n ideale Saterdagoggendstappie.
Vir 14 Mei word die Hennops-roete beplan.
Dit is ‘n baie gewilde roete, redelik lank, sowat 12 kilometer, met baie uitdagings vir die avonturier. Daar word met ‘n kabelkarretjie oor die rivier gery, dan word daar met ‘n leer afgegaan na ‘n grot wat skuiling bied teen wind en weer.
Daar word oor koppe en klowe gestap, en wild kan ook gesien word. Goeie skoene en genoeg water (en energiestafies) is ‘n moet op hierdie stap. ‘n Bedrag van R45 word vir volwassenes gehef. Die omgewing is pragtig en die roete was nog altyd goed versorg.
Dit is ‘n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié van ons wat net eenvoudig ‘n goeie wegbreek en ‘n hele oggend in die rustige en pragtige natuur wil geniet.
Skakel vir Lu Ludick by 083 235 1958 of Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555 vir meer inligting.
Lees meer:
• Sluit aan by die stapklub die maand
