Oud maar nog nie koud
Hy glo dat aangesien sy oupa en sy pa ook fiets gery het, dit sekerlik in sy bloed moet wees.
“My doelwit is om 150 jaar oud te word en ek gaan dit doen deur fiets te ry.”
Dit is die woorde van ‘n entoesiastiese pensioenaris, Martin Lee, wat beoog om die oudste man op aarde te word deur gesond te bly en sy gunsteling sport te beoefen.

“Okei, dalk nou nie regtig só oud nie,” het die 68-jarige Martin grappenderwys aan die News vertel toe hy oor sy liefde vir fietsry uitgewei het. Hy glo dat aangesien sy oupa en sy pa ook fiets gery het, dit sekerlik in sy bloed moet wees. Hy spog graag met ‘n 1911-foto van sy oupa by sy fiets wat 106 jaar later steeds vir hom ‘n baie groot inspirasie is.
Martin het gesê dat sy twee seuns ook fietsry en dat hy graag sy driejarige kleinseun, Ayden ook dié passie wil aanleer.
Hy het vertel dat hy 18 jaar lank op sy metaalponie 18 kilometer werk toe, en 18 kilometer terug gery, maak nie saak of dit gereën, gesneeu of droog was nie. Dit is egter meer onlangs dat Martin ernstig aan fietswedrenne begin deelneem het, waaronder verskeie EPR Cycle Challenges, 947 Cycle Challenges, Berge en Dale Classic, Amashova Durban Classic en Love Your Nuts Cycle Challenge. Hy sien daarna uit om in November sy tiende Telkom 947 Cycle Challenge te voltooi.

“Dis so lekker om gesond te wees en soveel suurstof in jou bors te kry. Op die fiets het ek alleentyd – net ek en die Here. Elke keer wanneer ek die pedaal trap, sê ek net ‘dankie, dankie, dankie’,” het Martin vertel.
Hy lê ook graag drie maal ‘n week ongeveer 50 kilometer op sy fiets af. Martin het vertel dat wanneer hy die kans kry, sal hy trap, maak nie saak waar hy is nie.
“Dis net lekker om te lewe en dis ‘n goeie ding om na jou gesondheid te kyk, want dan geniet jy die lewe net soveel meer,” het hy vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
