Editor's choiceLocal sportSport

82-jarige laat steeds die speke sing

Hy meen dat hy saam met een van sy vriende sy heel eerste rit aangepak het, en dít ongeveer 580 kilometer Durban toe, en terug.

Om aan gereelde fietswedrenne deel te neem is nie vir sissies nie, en om oud te word is self nie kinderspeletjies nie. Maar om aan gereelde fietswedrenne deel te neem terwyl die ouderdom jou inhaal is slegs vir mans en vroue van staal beskore.

Piet Kotze het ten bate van Luipaardsvlei Ouetehuis deelgeneem. Foto: Alanicka Lotriet.

Dit is wat 82-jarige fietsryer, Piet Kotze van sy tydgenote onderskei. Piet het eers ongeveer 40 jaar gelede vir die eerste keer op ‘n fiets geklim met die doel om ernstige kilometers af te lê.

Hy het vertel dat hy sy heel eerste rit saam met een van sy vriende aangepak het, en dít ongeveer 580 kilometer Durban toe, en terug. Daarna het hy talle ritte Kaap toe aangedurf. Hy en ‘n ander vriend het eenkeer 1 400 kilometer in sewe dae afgelê.

“Ons het elke keer verskillende roetes gevolg. Tydens een van die ritte het ons byvoorbeeld die bekende Tuinroete gevolg, en ‘n keer deur Upington gery om ‘n totaal van 1 700 kilometer af te lê,” het Piet vertel.

Dit is egter eers 18 jaar gelede dat hy aan sy eerste Cape Argus Cycle Tour deelgeneem het. Sedertdien het hy ‘n totaal van 13 wedrenne voltooi, ‘n paar keer saam met sy dogters.

Hy spog ook met nege 947 Cycle Challenges wat hy met “toe oë” voltooi het. Vir die afgelope vier jaar het hy dit goedgedink om ten bate van Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes aan die wedren deel te neem.

Piet Kotze het ten bate van Luipaardsvlei Ouetehuis deelgeneem. Foto: Alanicka Lotriet.

Verlede jaar was hy een van slegs vyf fietsryers bo die ouderdom van 80 om aan dié bekende wedren deel te neem.

“Ek het gevoel ek moet aan iets deelneem om die gesondheid waarmee ek geseën is te handhaaf. Dit is baie goeie terapie vir die stresvolle tyd waarin ons onsself bevind,” het hy vertel.

“Ek hou ook natuurlik van ‘n uitdaging. Veral op my ouderdom dink ek mense sal verbaas wees hoeveel jy kan doen as jy regtig wil.”

Alhoewel hy graag aan verskeie fietswedrenne regoor die land deelneem, maak hy en sy dogters seker dat hulle elke jaar saam aan minstens een deelneem.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button