Die Wesrand Stoeigimnasium (WSG) se jaarlikse Wesrand Challenge het gesorg dat dié klub hul 20ste bestaansjaar in styl kon vier.
“Die Challenge is vanjaar baie goed ondersteun. Ons het 220 inskrywings van 22 klubs gehad, wat baie beter was as verlede jaar se 100,” het Juan Nel, WSG se hoofafrigter gesê.

Hierdie jaar se kompetisie het ook baie groot pryse op die spel gehad, wat ‘n R5 000-kontantprys ingesluit het vir die klub wat die meeste inskrywings gehad het.
“Centurion het die prys vir die meeste inskrywings gewen. JR Wrestling van Pretoria-Noord het die R1 000-kontantprys ingepalm vir die klub met die meeste gees. Daar is ook 12 televisies in elke ouderdomsgroep weggegee,” het hy vertel.

Die WSG-stoeiers het ook baie goed tydens die toernooi presteer en uit 36 inskrywings het hulle 11 goue-, 10 silwer- en agt bronsmedaljes verower. Daar is ook vyf vierde plekke en twee medaljes vir deelname toegeken.
Juan het gesê dat hulle net positiewe terugvoering van al die deelnemers ontvang het. “Almal wat deelgeneem het, het vir ons gesê dat dit een van die beste georganiseerde toernooie van die jaar was en dat hulle dit baie geniet het. Ons mik vir minstens 350 inskrywings vir aanstaande jaar se Challenge, wat weer by dieselfde venue gehou sal word.”

Hy het bygevoeg dat sy stoeiers ook hard besig is met voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. “Die kampioenskappe vind in Oktober in Belville plaas en ons sal graag met medaljes wil terugkeer. Ek glo dat elke stoeier, as hy sy kant bring, dit sal kan vermag,” het Juan gesê.

Die WSG-stoeiers oefen Maandae en Woensdae van 6nm tot 8nm by die Witpoortjie Ontspanningsentrum en almal van vier tot 40 is welkom.
Vir meer inligting oor die WSG, kontak Juan Nel by 083 411 3758, Herman Engelbrecht by 084 522 9286 of besoek hulle Facebook-blad.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
