Jong skopbokser verbaas almal met sy vermoëns
Op 'n sewejarige ouderdom maak Lian van Zyl opslae in die skopbokswêreld soos hy prestreer in nasionale kompetisies.

Lian van Zyl het begin naam maak by die Ring Contact Fighting Art-skopboksateljee in Krugersdorp.
Twee-en-‘n-halfjaar later is Lian die beste in sy klas en het die afgelope jaar uitstekend gevaar in kompetisies. Lian is skaars ‘n meter lank maar staan glad nie terug vir skopboksers ouer as hy nie. Tydens een van die drie groot toernooie waaraan hy onlangs deelgeneem het, die Great North Two-kampioenskap, het hy met effe ouer seuns meegeding en weggestap met ‘n prysenswaardige silwermedalje in die Ring Contact Fighting Art-afdeling.

Hy het boonop gouemedaljes verwerf by die toernooie wat deur die South African Kickboxing Association (SAKA) en World Association of Kickboxing Organisation aangebied is.
Sensei Jörgen Cieslik rig vir Lian van die begin af af en kan self nie glo hoe goed die klein seuntjie vaar nie.
Volgens Lian het hy met skopboks begin om fikser en sterker te word. Sy pa, Heino van Zyl het geglimlag toe hy verduidelik het dat hulle hom by die klasse laat aansluit het om sy humeur te help afkoel. Dit het duidelik wonders vir hom gedoen aangesien Lian soos die rustigste kind op Aarde gelyk het terwyl hy sy toerusting aangetrek en met die News gesels het.
“Hy is nou baie rustiger en glad nie meer so skaam en teruggetrokke soos hy was nie; as persoon het hy meer na vore gekom,” het Heino gesê.
Lian het gesê dat sy gunstelingdele van oefen die skop en die boks is. Toe hy gevra is wat die moeilikste dele was, het hy trots gesê dat “niks moeilik is nie,” maar dat hy net ‘n bietjie moeg word. Hy was ook nie bang vir die ander deelnemers gedurende sy toernooie nie want, “Hulle het net gehuil”.
Lian beplan glad nie om met skopboks op te hou of om briek aan te draai nie, en gaan vanjaar weer aan vele kompetisies deelneem.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
