Nicole skop stof in ander se oë by Arnold Classic-kunskompetisie
Die 16-jarige Nicole de Beer het hierdie jaar aan die Arnold Classic-kunskompetisie deelgeneem en met 'n tweede plek weggestap.
Kuns het vir die 16-jarige Nicole de Beer as ‘n stokperdjie begin, maar deesdae beplan sy haar toekoms daarom.
Van 17 tot 19 Mei het Nicole aan die 2019 Arnold Classic-kunskompetisie deelgeneem en weggestap met die prys vir die tweede plek.
“My ma het die kompetisie op die internet raakgesien en ons het toe ingeskryf,” het Nicole vertel.
Nicole se hele familie is kunstig en sy sê sy teken al van kleintyd af.
Dit is ‘n potloodskets van ‘n paaldanser wat vir Nicole die tweede plek verseker het.
Tydens die kompetisie is deelnemers uitgestuur om ‘n foto te neem van iets of iemand wat hulle by die kompetisie gesien het. Hulle het dan twee en ‘n halfdag gehad om die foto oor te doen in enige medium van hul keuse.
Nicole het vertel dat sy ‘n bietjie gesukkel het omdat sy nie naby genoeg aan die deelnemers kon kom nie, maar die paaldanser het toe aangebied om vir die foto te staan.
Die beoordelaars het seker gemaak dat deelnemers iets skets wat hulle tydens die kompetisie gesien het. Hulle moes dit daar teken en mag dit nie huis toe geneem het nie.
Sy het haar kunswerk ‘Passion within’ genoem en het ter motivering gesê dat die kunswerk daaroor gaan om te fokus op die energie wat jy insit in dit waaroor jy passievol is.
Nicole beplan om na skool beeldende kuns te gaan studeer. Sy is ook verlede jaar aangewys as haar skool se Kunsleerder van die Jaar.