Heinrich se oorsese tennisdroom kan waar word
Heinrich het na agt jaar se harde werk uiteindelik die geleentheid gekry om sy held te gaan sien speel en sy droom te bewaarheid.
Heinrich Wasserfall is gekies om in hierdie maand saam met die Tennis SA Laerskolespan die Abrie du Plooy-tennisakademie in New Orleans te gaan besoek.
Dié nasionale span is gekies uit al die provinsiale laerskoolspelers wat aan die einde van Maart aan die nasionale, interprovinsiale tennistoernooi in Bloemfontein deelgeneem het.
Die span gaan van 17 tot 28 Augustus in Amerika toer waar hulle aan verskeie tennisklinieke en oefenkampe gaan deelneem.
Die 13-jarige Heinrich het vertel dat hy al van kleins af van dié spel hou. Sy ouma het ook op skool tennis gespeel en hy het by haar geleer speel. Hy is vreeslik kompeterend en dit is juis die deel van sy persoonlikheid wat tennis so baie geniet.
Sy pa, Pieter Wasserfall, het gesê dat Heinrich elke dag eers in Randburg oefen waar hy aan aspekte soos sy spoed, krag en akkuraatheid werk. Dan oefen hy ook ‘n uur per dag by die Noordheuwel-klub saam met sy twee afrigters, Frank Alonzo en Ruan Dimngues.
Behalwe dat dit sy eerste toer oorsee gaan wees, sien Heinrich die meeste daarna uit om sy held, Roger Federer te sien speel.
Die groep gaan ‘n uitstappie na die VSA Ope onderneem waar hulle van die spelers in aksie sal sien.
Heinrich glo dat as hy eendag so goed soos sy held wil speel, sal sy kop moet reg wees, en hy sal deursettingsvermoë moet hê en die regte eetplan moet volg. Dit beteken dat hy homself sal moet druk en baie hard oefen.
Die gunstelingdeel van sy dag is om vir ‘n uur teen een van sy afrigters te speel, het hy vertel.
Vir Heinrich om sy droom in Amerika te bewaarheid, het die familie egter R48 000 nodig om die kostes van die toer te dek. Hulle het reeds van die geld ingesamel, maar kort hulp met die laaste bietjie.
Indien jy vir Heinrich wil help om Amerika toe te gaan, kan jy sy pa, Pieter skakel by 078 804 5654.
Die familie bedank ook graag vir Heinrich se afrigters vir hulle toewyding, tyd, insette en wysheid wat hulle met Heinrich deel.

