Nuwe bane vir die Noordheuwel tennisklub
Volgens die Noordhwuewel tennisklub se voorsitter is dit belangrik om die bane gereeld in stand te hou.
Die Noordheuwel-tennisklub het met trots drie van hul bane op Saterdag, 6 Julie, heropen.
Francois du Toit, die klub se voorsitter verduidelik dat hulle reeds so ses jaar lank besig is om stelselmatig hul bane oor te doen. Daarbenewens doen hulle ook gereeld instandhouding. Nette word vervang, ligte opgesit en die gebou en bane gereeld geverf.
Die klub het heelwat lede, selfs ‘n hele aantal junior spelers – 120 om presies te wees.
Daar is twee tennisakademies wat daar oefen en die Wes-Randse juniortennisspelers word ook elke Saterdag by dié klub afgerig.
Hulle het vernuwing op al drie die bane gedoen en klublede kon die bane inwy met sosiale wedstryde. Na die tyd het almal lekker saam gebraai – iets wat gereelde instelling by hulle is, het Francois gesê.
Hy het gesê dat hulle nog baie meer mense deel van hul klub wil maak. Hulle bied gereeld sosiale en ander toernooie aan, en enigiemand is welkom.
Indien jy deel wil word van die klub of net uitvind van toekomstige toernooie, skakel gerus vir Frank Alonzo, die klub se ondervoorsitter, by 078 758 2516.

