Local sportSport

Spiertier gluur vir Wêreldkampioenskappe

Die gespierde Izak spog deesdae met 'n nuwe titel nadat hy die Welkom Classic-liggaamsboukompetisie gewen het.

Izak Groenewald, ‘n plaaslike liggaamsbouer, oefen nou maar eers die afgelope drie jaar ernstig en is reeds besig om vir homself naam te maak.

Izak het in Januarie 60 geword en het vertel dat dit nuwe deure oopgemaak het want toe kon hy aan die liggaamsbou-meesterskategorie vir dié bo 60 begin deelneem.

Aan die einde van Julie het Izak in Welkom aan die Welkom Classic-liggaamsboukompetisie gaan deelneem en het weggestap met die eerste plek. Dié oorwinning het hom ook laat kwalifiseer vir die International Bodybuilding and Fitness Federation (IBFF) Wêreldkampioenskappe aan die einde van die jaar.

Izak het in 2017 saam met sy vrou, Jacqueline Groenewald begin oefen en het vertel dat hy altyd daaraan gedink het om ‘n liggaamsbouer te word maar eers later jare sy droom vervul het.

In 2018 het hy aan die Meneer Liggaamsbou Meesters bo 40-kompetisie in Italië deelgeneem en sewende geëindig.

Dit is juis die streng dieet wat hom vang. Hy begin reeds 16 weke voor ‘n kompetisie met sy dieet en voorbereiding.

Sy middagete bestaan uit vleisballetjies en groente. Hy het egter bygevoeg dat al is dit nie lekker nie, is dit ook baie opwindend om te oefen en reg te eet. Dit is boonop vir hom lekker om op sy ouderdom so sterk te wees.

Izak oefen ‘n uur en ‘n half per dag en geniet dit die meeste om met gewigte te oefen. Saans doen hy ‘n halfuur lank kardio.

Sy afrigters – sy vrou en Allen Griesel – dink gereeld aan nuwe metodes vir hom om te oefen en daarvoor is hy baie dankbaar, het hy vertel.

Izak het vertel dat hy as kind polio gehad het en die feit dat hy 1,95m lank is, maak dit vir hom moeiliker om spiere te bou as vir ander, maar dié struikelblokke hou hom nie terug nie. Hy het vertel dat hy voor ‘n kompetisie sy liggaamsvet tot drie persent verminder.

Die wenoomblik in Welkom was vir Izak baie groot omdat dit sy eerste oorwinning was. Hy het verduidelik dat mens nooit verwag om te wen nie, hoewel mens steeds bly hoop.

“Met die Vader se genade was dit ‘n groot oomblik,” het hy trots gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button