Local sportSport

Coen laat die skote klap in Amerika

'n Jong seun van Krugersdorp het onlangs Suid-Afrika se naam hoog gehou by die Kleiduif-wêreldkampioenskappe in Amerika.

Die jong Coen Vermaak hanteer ‘n 12-boor haelgeweer beter as meeste volwasse mans. Hy het dit weereens bewys by die American Grand 2019-skietkampioenskappe.

Die kampioenskappe het in Augustus in Illinois in Amerika plaasgevind en die 17-jarige Coen het met twee titels en sy Protea-kleure weggestap.

Deur die jaar het Coen aan verskeie kompetisies deelgeneem en derde in die top vyf in Suid-Afrika geëindig. Die top vyf is toe Amerika toe om hul land te verteenwoordig.

Uit die onderskeie kompetisies wat oor die 10 dae aangebied is, moes Coen aan die Wêreldkampioenskappe deelneem om sy Protea-kleure te kon kry.

Albei wêreldkampioenskapkompetisies is op een dag gehou en elke deelnemer het ‘n punt uit 100 skote gekry. Coen het in die een kompetisie 97 uit 100 geskiet en in die tweede kompetisie 98 uit 100, wat vir hom sy Protea-kleure verseker het.

Meer as 3 000 mense van regoor die wêreld het aan die American Grand-kompetisies gaan deelneem en Coen is as die junior kampioen in die Challenger Ammunition Handicap Championship aangewys. Hy het ook ‘n derde plek in die Hodgedon Power ATA Singles gekry.

Twee jaar gelede het sy pa, wat toe reeds ‘n lid van die Doringkop Skietklub was, hom saamgeneem soontoe. Daar is die saadjie geplant en Coen se liefde vir dié sport het begin groei.

Hy geniet die kompetisie tussen deelnemers die meeste en wil graag eendag by die Olimpiese Spele gaan skiet.

Tydens die kompetisie in Amerika is hy raakgesien deur ‘n verteenwoordiger van ‘n Amerikaanse kollege en hulle het vir hom ‘n beurs aangebied om daar te gaan studeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button