Local sportSport

Morne laat armdrukkampioen les opsê

Morne Jacobs droom om eendag die armdruk-wêreldkampioen te wees. Hy het onlangs 'n tree nader daaraan gekom toe hy die Island Style-armdrukkampioenskappe gewen het.

As jy goeie uithouvermoë en ‘n hoë pyndrumpel het, nie hou van verloor nie en sterk hande en arms het, is armdruk vir jou, sê Morne Jacobs.

Morne, of die Swartkat soos hy bekend staan, neem al ‘n paar jaar aan die sport deel en het onlangs die Seychelle se armdrukkampioen laat les opsê tydens die Island Style-kampioenskappe.

Hy het vertel dat hy altyd vir die lekkerte armgedruk het en dat niemand hom kon wen nie. Toe hy die Suid-Afrikaanse armdrukkampioen ontmoet het, het hy besluit om hom uit te daag.

“Ek kon nie sy arm beweeg nie,” het Morne laggend vertel.

Daarna het hy begin oefen en tegnieke aangeleer. Hy het gesê dat armdruk ‘n gevaarlike sport is en dat jy jouself baie seer kan maak as jy nie oefen en dit reg doen nie.

Hy het na ‘n ruskansie eers onlangs weer begin armdruk en dit is toe dat iemand van die Seychelle-span hom raaksien. Hulle het hom gevra om hulle in die Seychelles te gaan leer, maar die kampioen daar, Suresh Vidat het gesê hy moet homself eers daar gaan bewys.

Op 2 November het hy toe vir Suresh 3–0 gewen. Gewoonlik is dit die beste uit vyf, maar die een wat agter is kan besluit of hy wil aangaan of nie.

Morne is ‘n lid van die Primal-armdrukklub en die South African Arm Wrestling Federation (SAWEF). Hy het verduidelik dat mense wat wil armdruk eerder by ‘n klub moet aansluit en leer om dit reg te doen.

“As jy verloor is dit net jy; jy kan niemand anders blameer nie,” het hy trots gesê.

Hy oefen ook gereeld sy hande, gewrigte, voorarms en skouers en wil graag oor vyf jaar die armdruk-wêreldkampioen wees.

Intussen beplan hy om volgende jaar aan die 2020 Wêreldkampioenskappe in Georgië te gaan deelneem, en dan kom die span van die Seychelle ‘n bietjie Suid-Afrika toe vir die Country Style-armdrukkampioenskappe.

Indien jy meer oor die sport wil leer, besoek gerus die Underground Armwrestling League South Africa (UAL SA) of Primal Arm Wrestling se Facebook-blad. Kontak gerus vir Morne by 081 305 3563 of Linus Cornelius by 072 895 5699.

Die span bedank ook graag vir Danie’s Panel Beaters in Boltonia en die Biltong Boys in Fochville vir hul borgskap. Hulle beplan om volgende jaar die Country Style-armdrukkampioenskappe aan te bied en het gesê dat enige borge welkom is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button