Local sportSport

[FOTO’s] Van verlam tot 50ste parkrun

Ondanks die feit dat dokters nege jaar gelede vir Marie van der Merwe gesê het sy sal permanent verlam wees, het sy onlangs haar 50ste parkrun voltooi.

Om op ‘n Saterdagoggend vroeg op te staan om ‘n parkrun aan te durf kan vir baie soos werk klink, veral as dit die Sterkfontein-parkrun is.

Maar Marie van der Merwe sien uit na haar vroeë Saterdagoggende, en Tommy Joubert het vertel dat sy ongelukkig is as sy nie kan gaan nie.

Marie van der Merwe was al menigmaal in die nuus oor haar prestasies.
Foto: Verskaf.

Marie se ywer is nie die enigste eienskap wat haar laat uitstaan nie. Al is daar sowat nege jaar gelede vir haar gesê sy sal nooit weer kan loop nie, het sy onlangs haar 50ste parkrun voltooi.

Marie was ‘n besonderse ultramaratonatleet en lid van die Rustenburg Maratonklub. Sy het 12 Comrades Maratons voltooi.

Van haar grootste prestasies is toe sy in 1991 ‘n binnelandse rekord opgestel het deur 161km in 16 uur 28 minute en 10 sekondes te voltooi.

Dit het Marie ses dae geneem om 585 kilometer te voltooi.
Foto: Verskaf.

Sy was Rustenburg se Sportvrou van die Jaar in 1991 en was die eerste vrou om ‘n sesdagwedloop oor 585 kilometer in 1996 te voltooi.

Dalk een van haar merkwaardigste prestasies is toe sy die eerste en enigste vrou in 1998 was wat ‘n wedloop oor 1 000 kilometer kon voltooi. Sy het dit in 12 dae, 22 uur en 54 minute gedoen.

Tommy het vertel dat hulle in 2018 in Burgersfort gewoon het. Een dag toe Marie van Rustenburg af op pad terug was, het haar kar gerol. Marie kan tot vandag toe nie onthou wat presies gebeur het nie.

Marie was die eerste en enigste vrou om die Paul Selby 1 000 kilometer-wedloop in 1998 te voltooi.
Foto: Verskaf.

Sy was vir sewe dae bewusteloos en behalwe vir ‘n paar klein beenbreuke het Marie ‘n ernstige breinbesering opgedoen. Dokters het voorspel dat Marie totaal verlam sou wees en nie vir haarself sou kon sorg nie. Sy het nagenoeg drie maande lank fisio- en arbeidsterapie in Pretoria ontvang.

Tommy het vertel hoe hy haar in ‘n rolstoel rondgestoot het wanneer hy vir haar gaan kuier het. Eendag toe hy haar weer in die bed wou tel, het Marie gewys sy wou self opstaan. Sy kon op daardie stadium nog nie praat nie.

“Toe help ek haar op. Toe gaan sit sy weer, maar sy wou nie lê nie. Sy wou weer opstaan,” het hy verduidelik.

Voor die ongeluk het Marie gereeld aan maratons deelgeneem.
Foto: Verskaf.

Teen die derde keer het sy vir Tommy weggestoot en sonder hulp gestaan. Van daardie dag af het sy baie hard gewerk om weer selfstandig te wees. Terug by die huis het Marie op ‘n trapmeul begin loop.

Die paartjie het eers by die Roodepoort-parkrun aangesluit maar later oorgeskuif na die Sterkfontein- parkrun.

Dokters het gesê Marie moet op ongelyke grond stap om haar balans te verbeter, en die Sterkfontein parkrun se terrein is perfek daarvoor.

Deryn Veneski, die organiseerder van die Sterkfontein-parkrun het vertel dat Marie laaste klaarmaak, maar dat almal saam hande klap en haar aanmoedig.

“Sy is ‘n ware inspirasie, veral vir my. Ek kla baie oor my omstandighede na ‘n erge beenbesering. Sy het my gemotiveer om weer fiks te word,” het Deryn gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button