Cian stoot sy opponente uit die pad uit
'n Jong atleet is besig om die gewigstoot- en diskuswêreld op horings te neem. Die 16-jarige seun breek gereeld rekords met 'n persoonlike beste diskusgooirekord van 54,38 meter.
Cian de Villiers is nou maar eers aan die begin van sy atletiekloopbaan en is klaar besig om die een rekord na die ander op te stel.
Hy het vertel dat hy op die ouderdom van agt vir die eerste keer ‘n gewigstootbal opgetel het, en toe hy 12 jaar oud was het hy begin diskus oefen.
Deesdae is die 16-jarige ‘n topatleet wat rekords laat spat. Pierre Blignaut van die Pierre Blignaut Gewigstoot en Diskus Akademie is sy afrigter. Een van sy mentors, Kyle Blignaut, is ook ‘n afrigter by sy skool. Kyle het in 2018 die o.20-gewigstootitem by die wêreldkampioenskappe gewen.
Vir Cian het twee van sy prestasies vanjaar reeds uitgestaan; die eerste was toe hy by die Twizza Super Skole-reeks die Suid-Afrikaanse rekord geëwenaar het, en die tweede was toe hy by die interhoër die gewigstootrekord gebreek het.
Verlede jaar is hy by die Elardus Erasmus Gedenkatletiekbyeenkoms in Naboomspruit aangewys as die beste o.15-seunsatleet, die beste o.15-atleet en die algeheel beste seunsatleet. By dié byeenkoms het hy ‘n gewigstootrekord verpletter wat reeds 14 jaar gestaan het.
Cian oefen drie keer ‘n week in die gimnasium, en oefen sy stote ses keer per week. Hy het verduidelik dat die gewigstootoefeninge help vir die diskus, en andersom. Hy het trots vertel dat sy persoonlike beste diskusgooi 54,38 meter is.
Behalwe vir gewigstoot en diskus speel die kranige atleet ook rugby. Hy wil graag óf atletiek óf rugby eendag sy loopbaan maak.
“Mens kan niks goed doen as jy nie oefen nie,” het Cian gesê toe hy verduidelik het wat mens ‘n goeie gewigstootatleet maak.
“Wanneer ek in daardie sirkel instap is ek alleen. As ek nie goed doen nie kan ek niemand anders as myself blameer nie, maar as ek goed doen weet ek dat ek hard gewerk het en die vrugte daarvan kan pluk,” het hy laggend bygevoeg.

