Wil jy boks? Sluit aan by die Krugersdorp-Wes Boksklub
Die Krugersdorp-Wes Boksklub is weer hard aan die oefen en nooi almal uit om by hulle aan te sluit.
Van buite af lyk die gebou nie juis na iets wat jou aandag sal trek nie. Dis aan die binnekant van die Krugersdorp-Wes Boksklub waar alles gebeur.
Vir die afgelope 66 jaar het die klub keer op keer kampioene opgelewer en staan vandag nog sterk. Die klub is in 1955 gestig en daar is nagenoeg 30 seuns en dogters wat tans by hulle boks. Sommige van hul lede het van jongs af leer boks, en hul ouderdomme wissel van agt tot 26 jaar.
Hul ledegeld is R40 per maand vir ‘n junior, en R70 per maand vir ‘n senior. Susan da Silva, een van die klub se afrigters het verduidelik dat hulle ook lede het wat dit nie kan bybring nie, en hulle word nie weggewys nie.
“Hoe sê mens vir daardie klein blink ogies hulle kan nie by ons aansluit nie omdat hulle nie kan betaal nie?” het sy gevra.
Sy het bygevoeg dat baie van die kinders ‘n aangebore talent vir die sport het, en dat mens hulle dan bloot net nie kan wegwys nie. Om te vergoed vir die finansiële verliese wat hulle soms ly hou hulle gholfdae, en hulle kry ook baie hulp en donasies van die gemeenskap en die ander lede se ouers.
Die inperking het dinge moeilik gemaak vir die klub en hulle kon vir ‘n lang ruk nie oefen nie. Sedert hulle kon terugkeer maak hulle op vir die verlore tyd.
Susan het verduidelik dat hulle alle Covid-19 regulasies streng navolg omdat hulle hul kinders wil veilig hou by die klub.
Die klublede mag nog nie aan kompetisies deelneem nie, maar daar is reeds ‘n kalender opgestel en hulle wag net vir die jawoord om voort te gaan.
Sy het verduidelik dat 2020 eintlik ‘n verlore jaar was omdat hulle niks kon doen nie, maar dat drie van hul boksers die afgelope drie jaar regtig goed gevaar het. In 2019 het Jano Mbuyi en Ryan Botha onderskeidelik die Gauteng-Wes-kampioenskappe se Junior Age en School Age-kampioenskappe gewen, en gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse Bokskampioenskappe.
Nog een van hul boksers, Morgan Hunter is as lid van die Gauteng Akademie-span gekies.
Hulle het tans vier afrigters en Susan het vertel dat hulle nooit nee sal sê vir nog ‘n bokser of twee wat by hulle wil aansluit nie.
• Navrae: Susan by 082 681 9153 of 071 411 2727.
