Local sportSport

Jonges wys hulle kan rol

'Rolbal is vir seker nie net vir oumense nie' – klubpresident

Net soos ‘n bekende fiktiewe karakter altyd op soek na bloed is, is die Noordheuwel Rolbalklub honger vir jong bloed.

Verlede Donderdag, 8 April was juis die begin van iets groot toe die klub ‘n proeflopie vir sy onderwyserskoleliga gedoen het.

Onnies van onderskeidelik Noordskool, Dr Havinga, Hoërskool Noordheuwel en Laerskool Kenmare, asook ‘n paar skoolhoofde soos Dawie Kriel en Charles Miller het opgedaag om te wys wat in hulle steek. Een van Noordskool se vier spanne was die algehele wenners, maar dit is nie waaroor dit gegaan het nie. Die idee met die proeflopie was eerder om ‘n saadjie te plant in onnies wat dan hopelik verder sal groei in die jonger generasie – die leerders.

Die algehele wenspan van Laerskool Krugersdorp-Noord is agter Quintin Botha en Johan Harding met Hannes Longland en Heinrich Zerbe voor.

“Ons wil die afgelope twee jaar al ‘n skoleliga begin het. Vandag was ‘n groot tree om die droom te realiseer. Ongelukkig het Covid-19 gekom en ons moes briek trap,” het Nico Hudson, president van Noordheuwel Rolbalklub vertel.

Die klub beoog om die skoleligawedstryde oor ‘n tydperk van vier weke per maand te speel en dan ook ‘n wisseltrofee te oorhandig waarmee die kampioene kan spog. So sal dit ‘n permanente toernooi word.

Samantha van der Vyver, Saluny van Jaarsveld en Nicole Lessing van Dr. Havinga.

Die groot vraag is wel of rolbal nie net vir bejaardes bedoel is nie.

“Dit is ‘n spel vir oud en jonk. Jy leer ander vaardighede en dit is ‘n lekker sosiale sport. Dit is nogal aansteeklik ook,” het Charles, Noordskool se hoof gesê. Alhoewel hy al rolbal gespeel het, was hierdie die eerste keer dat hy aan ‘n ‘kompetisie’ deelgeneem het.

Dot Britz van Dr. Havinga in aksie.

‘n Paar van die onderwysers het ook hul mening oor rolbal gelug. Jessica Aylward van Dr Havinga het gesê, “Dit is eintlik ‘n baie ontspannende sport,” terwyl Kevin Kinghorn van Laerskool Kenmare gevoel het dat alhoewel hulle gewen en reeds die sport bemeester het, daar ‘n sport vir alle ouderdomme moet wees.

Leoni van Niekerk, Monique Austin, Ashley de Souza en Francois Pretorius van Dr. Havinga.

“Rolbal is vir seker nie net vir oumense nie. Daar is jong spelers in ons sisteem wat goed vaar en die oë laat rek,” het Nico gesê.

Hy het bygevoeg dat die klub net minder as 100 lede het, waarvan nagenoeg 30 onder die ouderdom van 60 is en as die jonges beskou word. Vier lede is boonop jonger as 19. Hul jongste lid is die negejarige Caitlyn Muir, en hul oudste lid is die 88-jarige Hennie Bekker.

‘n Span van Laerskool Krugersdorp-Noord en Dr. Havinga tydens hul kragmeting.

“Ons is opgewonde oor jong bloed. Dit is waaroor vandag gaan sodat die spel onder kinders se aandag gebring kan word. Nie almal kan rugby of netbal speel en baie goed daarin presteer nie. Jy weet nooit, miskien kan die kind uitblink en selfs ‘n Springbok word!” het Nico bygevoeg.

Johan Harding van Laerskool Krugersdorp-Noord beduie sy spanmaats wat om te doen.

As jy graag jou rolbaltalent wil toon, skakel gerus vir Nico by 082 551 9487.

Juffrou Isie Haupt van Laerskool Krugersdorp-Noord in aksie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button