Local sportSport

Bekker teen Fochville – Eerste skolerugbywedstryd in amper 400 dae

Na meer as 'n jaar sonder rugby kon Hoërskool Bekker en Hoërskool Fochville nie wag om mekaar die stryd aan te sê nie.

Hoërskool Bekker en Hoërskool Fochville se eersterugbyspanne het onlangs nie net op ‘n unieke wyse kragte gemeet nie, maar dit was ook die eerste skolerugbywedstryd na amper 400 dae.

Die wedstryd wat oorspronklik beplan was om op Vrydag, 23 April om 00.01vm af te skop en die ‘Midnight Cup’ genoem is, moes ongelukkig ‘n paar uur uitgestel word.

Terwyl baie mense nog warm in hul beddens gelê het, het die afrigters hul hande warm gemaak met ‘n koppie koffie toe die twee spanne mekaar om 5vm op Bekker se rugbyveld ywerig die stryd aangesê het, in wat toe die ‘Sunrise Cup’ geword het.

Babalo Dyosi systap sy opponent net-net.

Die twee spanne het sommer vinnig binne die eerste paar minute punte aangeteken, en Bekker het vroeg die voortou geneem met die telling op 7–5. Danksy ‘n strafskop en verdoelde drie het Fochville egter teen lemoentyd 17–7 voorgeloop.

Samuel de Villiers van Fochville het in die tweede helfte punte op die bord gesit en dit was net wat die Verre Wes-Randers nodig gehad het, want daarna was hulle goed op dreef om ‘n wegholoorwinning oor die Magalies-boere te behaal. Toe die eindfluitjie blaas het Fochville 50–7 koning gekraai.

Kevin Ndlovu van Bekker maak skoon in ‘n losgemaal.

Rugby was uiteindelik die wenner en na meer as ‘n jaar sonder rugby het beide spanne bewys dat hulle reg is vir die seisoen wat voorlê deur net hul te gee.

Die twee spanne het toe ook sommer die res opgewonde gemaak oor ‘n dag vol rugby wat vir die twee skole voorgelê het.

Wat die o.14’s aanbetref het Bekker naelskraap met 17–15 geseëvier, maar hul o.15’s moes egter die knie buig en het met 32–0 verloor.

Themba Zulu van Bekker hou sy oog op die bal.

Die ander seniors was in naelbytstryde gewikkel, waarin Bekker se o.16’s met 5–0 gewen het, en die tweedespan in ‘n taai affêre met slegs twee punte met 17–15 verloor het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button