Onnies neem aan rolballiga deel
Noordheuwel Country Club bied hierdie maand 'n rolbaltoernooi vir onderwysers aan om die sport aan skole bekend te stel.
Skole is gedurig aan die gang met die een of ander aktiwiteit. Dit is tog belangrik om die hele skoolondervinding soveel pret as moontlik te maak. Mens moet ook nie vergeet van die onderwysers wat al die pret moontlik maak nie, en dit is ook net reg dat hulle so af en toe hul eie pret te kan hê.
Vir dié doel het ‘n handjievol skole hul eie rolballiga vir die onderwysers op die been gebring. Dit het begin toe die Noordheuwel Country Club (NCC) se rolbalklub die skole genader het om aan hul Skoleligatoernooi deel te neem. Die liga strek oor vier weke.

“BSA (Bowls South Africa) fokus juis vandeesmaand daarop om rolbal in ons gemeenskap te bemark om meer belangstelling in die sport te kweek. Ons beoog dat die onderwysers dan die kinders sal aanspoor om deel te neem,” het Wouter van der Merwe van NCC verduidelik.
Laatmiddag op Woensdag 12 Mei het die spanne van Laerskool Krugersdorp-Noord, Kenmare en Hoërskool Noordheuwel in die eerste rondte van die kampioenskap meegeding nadat die onnies tydens ‘n vorige sessie deur die klub se ervare spelers afgerig is.

Die onderwysers het vinnig gesnap dat hulle hul rolbal so naby as moontlik aan die wit balletjie (‘jack’ of ‘kitty’) aan die oorkant van die baan moes laat lê, en ‘n paar van hulle het glad nie sleg gevaar nie.
