Klub Nories speel gholf vir koskas-projek
Die Klub Nories Ondersteuningsklub het weer onlangs hul jaarlikse gholfdag aangebied en so fondse ingesamel vir 'n kosprojek en vele meer.
Skool kan die beste tyd in ‘n jongmens se lewe wees, veral vir diegene wat by elke faset van die hoërskoolondervinding betrokke wil raak.
Maar, hoe meer mens doen en hoe meer jy bereik, hoe duurder kan deelname begin word.
Hoërskool Noordheuwel spog met vele leerders wat toppresteerder op die gebied van sport of kultuur is. Hulle kan met die bestes in die land meeding en die dorp se naam hoog hou. Soms is dit egter moeilik om die nodige fondse bymekaar te maak om te kan deelneem.

Dit was jare lank die leerders en ouers se verantwoordelikheid om fondse in te samel indien die skool self nie kon help nie. Dit was dikwels ‘n moeilike en onbekende terrein vir baie. ‘n Groep ouers het gevolglik besluit om saam te staan en die probleem rondom fondsinsamelings aan te pak.
Klub Nories Ondersteuningsklub het ontstaan, en die klublede samel elke jaar genoeg fondse in om talle leerders te help om hul drome na te jaag.
As deel van hul vele jaarlikse insamelingsinisiatiewe het Klub Nories op Donderdag, 10 Junie ‘n rondte vierbal-gholf by die Ruimsig-buiteklub aangebied. Die koel wind was nie te sterk nie en die son het warm geskyn vir die vele gemeenskapslede, besighede en leerders wat die klub kom ondersteun het.

Die klublede en spelers het met hierdie geleentheid elk R10 000 ingesamel en die finale bedrag is oorhandig aan Hoërskool Noordheuwel se koskasprojek vir behoeftige leerders.
“Die gholfdag is een van ons groot fondsinsamelings saam met ons kuieraand. Klub Nories het die afgelope paar jaar groot funksies aangebied, naamlik Toks en Tjops en ‘n kuieraand saam met Piet Pompies en gaskunstenaars. Alle ouers wat deel is van die klub geniet gewoonlik ‘n lekker kuier om die vuur waar daar altyd bespreek word hoe ons kan verbeter en die behoeftiges in en rondom ons skool meer kan bystaan.
Ons ondersteuners is daar vir alle groepe, of dit nou sport, kultuur of enigiets anders is. Klub Nories help ook graag ander skole, en samel geld in vir behoeftige skole om te help met hul sport- en voedselprojekte,” het klublid Benru Marais vertel.
Die gholfdag was ‘n groot sukses en talle pryse is na die tyd aan die spelers oorhandig.
