‘n Boksloopbaan om op trots te wees
Na 11 jaar as professionele bokser sê Ryno Liebenberg dit is tyd om op sy familie te fokus.
Pas terug van Rusland weet die 37-jarige Ryno Liebenberg nie wat sy bokstoekoms inhou nie maar hy is oor niks spyt nie. Na 11 jaar as professionele bokser sê Ryno dit is tyd om op sy familie te fokus.
Hy het die News vertel dat hy nie ‘n liefde vir boks gehad het nie maar dat hy lief was vir baklei. Toe hy as ‘n klein standerdsessie van net 39kg een middag weer bebloed by die huis aankom het sy pa geweet dit is tyd dat sy seun leer boks.
Min het hy toe geweet dat hy eendag om ‘n wêreldtitel sou meeding.
Ryno het in Rand-en-Dal grootgeword en het by die Krugersdorp-Wes Boksklub leer boks. Hy het later by No Mercy Boxing aangesluit waar Gert Strydom hom afgerig het. Hy is die afgelope tien jaar by die Hot Box-gimnasium deur Colin Nathan afgerig.
Ryno was 27 toe hy professioneel begin boks het. Hy het gesê boks is soos enige ander sport met doelwitte wat mens wil bereik. Eers ‘n geveg wen, dan iemand uitslaan, dan ‘n plaaslike titel wen, dan ‘n internasionale titel wen, en uiteindelik ‘n wêreldtitel wen.
Sy heel eerste geveg in 2010 by Wembley Stadion en sy vyfde geveg teen Tshepang Mohale in 2011 beskou hy as hoogtepunte. In albei gevegte het hy sy opponente uitgeslaan.
Nadat Colin hom begin afrig het, was sy eerste titelgeveg teen Johnny Muller van Witpoortjie om die IBL All Africa-titel.
“Die aand van die geveg was my koors 39,6°C. Ek het siek geword met griep die Woensdag en ons het die Saterdag geboks. Toe slaan ek Johnny uit in die sewende rondte en wen my eerste titel.”
Sy 16de geveg was ook sy eerste internasionale geveg. Sy teenstander was Eleider Alverez en daar het hy geleer dat dit heel anders is om teen internasionale boksers in die kryt te klim. Hierdie geveg is stopgesit toe Ryno se oog oopgekloof is.
Sy tweedelaaste geveg was in Januarie teen Rowan Campbell. Rowan is jonger as Ryno en mense het gedink hy staan nie ‘n kans nie, maar hy het Rowan in die tweede rondte platgeslaan.
Dié oorwinning het hom toe die geleentheid gegee om in Rusland teen Fedor Chudinov te staan te kom om die WBA Interim-wêreldtitel en hy het net vier weke gehad om vir die geveg voor te berei.
“Ek was reg daarvoor totdat hulle my afrigter uit die fight gehaal het.”
Colin moes isoleer as gevolg van Covid-19 en dit het ‘n groot impak op Ryno se prestasie in die kryt gehad. Hy het moedeloos geraak gedurende die geveg omdat niks wat hy gedoen het, gewerk het nie. Hy het nietemin in al 12 rondtes sy man teen Chudinov gestaan, en al het hy nie gewen nie was dit ‘n eer om aan die hoofgeveg in ‘n internasionale kryt deel te neem.
Nou, nadat hy alles vir boks gegee het, wil hy op sy familie fokus. Hy dink selfs daaraan om aan die Comrades te gaan deelneem. Sy pa het al die Comrades gehardloop en Ryno wil dit in ‘n beter tyd as sy pa voltooi.
“Ek dink ek was die afgelope tien jaar een van die beste boksers in die land, maar ek was net nie lucky genoeg om ‘n wêreldtitel te wen nie.”
Hy glo toewyding maak ‘n goeie bokser. “Jy moet bereid wees om alles vir boks te gee. Onthou, as jy in die kryt klim is jy alleen. Toewyding is die eerste en belangrikste ding, die res kan jy met tyd leer.”
Hy het ook gesê dat boksers nie te haastig moet wees met hul loopbane nie.
Ryno bedank graag almal wat hom deur sy loopbaan ondersteun het.
