Nories gooi hul hoeke tot in die Sentraal-Gautengse Hengelspan
Hoërskool Noordheuwel-leerders Juandré van den Heever en Zanté Nel is onlangs gekies as lede van die Sentraal-Gauteng-hengelspan.
Hoërskool Noordheuwel se eie Zanté Nel en Juandré van den Heever het onlangs die groot nuus ontvang dat hulle in die Sentraal-Gauteng Hengelspan opgeneem is.
Die twee hengel reeds sedert hulle kan onthou, en het van jongs af ‘n diep passie vir die sport ontwikkel.
“Visvang was nog altyd deel van ons huis. My pa is my mentor van dag een af omdat hy self baie ernstig is oor die sport,” het Juandré verduidelik.
“Dit kalmeer my en laat my dink. As ek hengel, vergeet ek van die wêreld om my en geniet dit wat voor my is. Nie een dam is dieselfde nie, daarom moet mens navorsing doen om te weet wat werk waar.”
Zanté was sewe toe sy saam met haar pa en oupa begin visvang het. “Ek het toe ek 12 was saam met my pa aan hengelkompetisies by die Thabazimbi Hengelklub begin deelneem. Ek geniet die uitdaging om die water by elke dam te lees, en om dan die aas, diepte en grootte hoekies te bepaal. Ek behoort aan twee hengeklubs, en daar is een tot twee keer ‘n maand ‘n kompetisie waaraan ek kan deelneem as daar nie skooleksamens is nie.”

Juandré vang elke naweek of vakansiedag vis, wanneer hy ook al die geleentheid kry. Zanté het genoem dat sy op 18 van haar grootste prestasies behaal het toe sy ‘n 12,4kg-karp by Donaldson Dam gevang het, die eerste plek behaal het in ‘n Thabazimbi Hengelklub-kompetisie, en nou die Sentraal-Gauteng span gehaal het.
Albei Nories verkies oewerhengel en hoop om die sewe ander provisiale spanne ‘n ding of twee te wys en die wentitel huis toe te bring.
