Perdry by Olimpiese Spele hul droom
Twee leerders van Bekker Hoërskool het onlangs gekwalifiseer om in September aan die SANESA Hoërskool-finale te gaan deelneem.

Twee ruiters van Hoërskool Bekker het onlangs gekwalifiseer vir die South African National Equestrian Schools Association (SANESA) se Hoërskool-finale wat op 5 September sal plaasvind.
Die leerders is die 14-jarige Marizelle van Wyk en die 16-jarige Caleb Venter.
Marizelle, ‘n Graad 8-leerder, het vertel dat sy perdry sedert sy agt jaar oud is. Haar ouers het haar aangemoedig om die sport te beoefen.

Haar verhouding met haar perd, Pharoah’s Forum of te wel Pharoah is een van die dinge wat sy die meeste van die sport geniet, maar dit kan soms moeilik wees om gefokus te bly.
Sy het vertel dat sy graag eendag aan die Olimpiese Spele wil deelneem, en om suksesvol te wees in die sport moet mens ‘n passie daarvoor hê.
Caleb is nou in Graad 10 en ry al perd sedert hy sewe jaar oud is. Hy het begin kompeteer toe hy nege was.
“Ons het perde op ons kleinhoewe, en my ma en ouer broer het my geïnteresseerd gekry in perdry. Ek het besef ek het ‘n liefde en passie vir die sport.”
Dit is ook vir hom die verhouding en spesiale band wat hy met sy perde het wat die sport so lekker maak.
Caleb sal in September met drie van sy perde aan die kompetisie deelneem. Hulle is Azanian Giant of te wel Giant; Queen Josephine of te wel Josie; en Sarahdane’s Tattiana of te wel Tatty. Hy het vertel dat hy daarvan hou om nuwe dinge te leer en te verbeter. Hy wil ook graag eendag op Olimpiese vlak aan Dressage deelneem.

Die moeilikste deel vir hom van die sport is die harde werk en toewyding wat dit verg, en die ure se oefening wat mens moet insit, maar hy sê ook dat hierdie toewyding saam met ‘n liefde en passie vir die sport en jou perd, die sleutel tot sukses is.
Marizelle sal in September aan die Dressage, Showing, Prix Caprilli en 80cm Jumping deelneem, en Caleb aan die Dressage (Prelim, Novice en Elementary), Showing, Working Riding en Prix Caprilli.
Hulle gaan in Augustus saam met nog ‘n ruiter van die skool, Odile Kleinhans aan die Dressage South Africa se Gauteng-been van die Nasionale Dressage-kompetisie deelneem in Graded Showjumping en Dressage.

Caleb het verlede jaar by die Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskappe tweede geëindig in Showing met sy perd Azanian Giant, en ook ‘n tweede plek in die Prelim Dressage behaal met sy perd Waroe Van Arnell.
