Local sportSport

Nories lewer nog ywerige ruiters op

Vier Hoërskool Noordheuwel-leerders is onlangs gekies om deel van die Sanesa Gauteng-Wes ruitersportspan te vorm.

Jong ruiters uit laer- en hoërskole regoor Gauteng het vanjaar hul vaardighede agter die teuels by talle ruitersportbyeenkomste gewys.

‘n Handvol deelnemers is uiteindelik deur die South African National Equestrian Schools Association (Sanesa) gekies om deel te vorm van hul Gauteng-Wes span. Hoërskool Noordheuwel het vier leerders in die span wat in Julie aangekondig is.

Hazel Herrmann is in die Sanesa Gauteng-Wes span opgeneem. Foto ingestuur.

Twané Terblanche het reeds op die ouderdom van agt begin perdry. Sy en haar perd, Hope Rising is hierdie jaar albei 14 jaar oud. “Die band tussen my en my ponie is eg; ek is baie lief vir hom en perdry is my passie. Ek het in 2018 by Opleidingskoue begin kompeteer. Ek neem sedert 2019 aan Sanesa-kompetisies deel. Ek doen skouspring (showjumping); dit kan dalk die adrenalien wees van die perfekte rondte wat my van die styl laat hou.”

Nelri Duvenage het begin met die sport toe sy 11 jaar oud was en beoefen tans hoofsaaklik skouspring. Haar familie en mederuiters het haar geïnspireer om daarmee te begin.

“My perd se naam is Iraquaino, ‘n regte kampioen! Ek sou dit nie kon bereik sonder die ondersteuning van my perdryskool, familie en skool nie.”

Amoné Janse van Rensburg neem reeds vanaf die ouderdom van sewe perdrylesse.

“Ek het in 2014 aan my eerste groot kompetisie deelgeneem en het vir nasionale kampioenskappe gekwalifiseer. Ek het die Gauteng-span in die dissiplines ruiterskap (equitation) en skouspring verteenwoordig en ons het nasionaal tweede geëindig. Alhoewel ek dressage, working riding, eventing, working hunter en ander dissplines beoefen het, fokus ek tans op skouspring. Dit is ‘n baie tegniese dissipline en verg baie aandag en oefening.” Haar perd se naam is Vivace en sy het in 2014 aan haar eerste nasionale kompetisie deelgeneem.

Twané Terblanche is in die Sanesa Gauteng-Wes span opgeneem. Foto ingestuur.

Hazel Hermann het op 10 jaar oud begin ry omdat sy op soek was na ‘n buitemuursaktiwiteit waar sy gereeld in die buitelug kon wees. Weens haar liefde vir perde was perdry ‘n duidelike eerste opsie. Sy het eers verlede jaar aan kompetisies begin deelneem, en sy en haar perd Natsuba het in Desember ‘n tweede plek by die Maple Ridge-jaareindskou behaal. Sy het in Mei aan die FEI-kwalifiseerder deelgeneem en derde geëindig.

“Ek het besluit op Engelse showjumping. Dit behels dat jy en jou perd elke dag hard werk aan spring en voetwerk. Ek het al aan drie Sanesa-kwalifiseerders in die 70cm-showjumping deelgeneem.” Sy het uiteindelik die Sanesa A-span gehaal.

Hazel het ook vertel dat die Sanesa kwalifiserende rondtes op 27 Maart, 8 Mei en 5 Junie by die Maple Ridge Equestrian Farm gehou is. Die finale rondtes vir hoërskole sal op 4 en 5 September by die Kyalami Park Klub gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button