Local sportSport

Sport is terug by Noordskool

Na 'n lang wag kan Laerskool Krugersdorp-Noord se leerders weer van hul gunstelingsportsoorte beoefen.

Die landswye grendeltyd en sy regulasies het die afgelope jaar en ‘n half duidelik ‘n negatiewe uitwerking op leerders gehad.

Die jongklomp hou daarvan om buite te wees, te speel en net aktief te wees. Dit is vir baie van die leerders net so belangrik om op die sportveld as in die klaskamer te wees.

Junior Seletswane oefen sy boulwerk. Foto: Jaco Human.

Leerders van Laerskool Krugersdorp-Noord het voor die begin van die derde Covid-19 vlaag vanjaar laas die geleentheid gehad om aan sport deel te neem.

“Ander skole het weer begin sodra die regering dit toegelaat het maar ons skool se eerste oefening was eers op Disndag, 17 Augustus,” het Quintin Botha, Noordskool se kommunikasiebeampte verduidelik. “Dit vorm deel van kinders se opvoeding en skoolloopbaan om sport te beoefen en ook ander vaardighede behalwe akademie te leer. Dit leer hulle oor spangees en vele meer. Dié kwartaal is dit minikrieket, minihokkie, hokkie, krieket en sekere ander kultuurbedrywighede soos Noordskool se Beat en Fotoklub.”

Tatum Nass oefen om die hokkiebal op die lyn te hou. Foto: Jaco Human.

Die Graad 3-groep sal voortaan op Maandae, Graad 1’s op Dinsdae, en Graad 2’s op Donderdae ná skool oefen. Die meer seniorgroepe sal Dinsdae en Donderdae op die veld wees.

Zak Vrey oefen weer sy kriekettegnieke by Noordskool. Foto: Jaco Human.

Daar sal ook aan proewe deelgeneem word om leerders vir die Krugersdorp- en Gauteng-Wes-spanne te kies. “Dit is ook om meer van ‘n struktuur vir die ouderdomsgroepe te vorm. Daar sal vir almal geleentheid gebied word om in te haal wat verlore was en ook meer te groei in prestasie,” het Quintin laastens genoem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button