Local sportSport

Pa en dogter is albei liggaamsbouers

Jacques du Plessis en sy dogter, Yvonne van As, is net twee lede van die familie wat besig is om hul fiksheidsdrome uit te leef en nuwe hoogtes te bereik.

Baie families verstewig hul bande met ‘n potjie kaarte of ‘n spel Monopoly maar vir een plaaslike familie is dit fisiese oefening wat hulle aan mekaar bind.

Jacques du Plessis en sy dogter, Yvonne van As, is net twee lede van die familie wat besig is om hul fiksheidsdrome uit te leef en nuwe hoogtes te bereik.

Jacques het verduidelik dat hulle so twee jaar gelede as ‘n familie begin saam oefen het, elkeen met sy eie doelwit. Vir Jacques was dit om aan ‘n sterkmankompetisie deel te neem – iets wat van jongs af reeds vir hom ‘n droom was.

Jacques du Plessis bewaarheid sy droom om aan sterkman kompetisies deel te neem.

Hy het by die African Strongman Unie aangesluit en ernstig begin oefen. Baie van die kompetisies is egter gekanselleer as gevolg van Covid-19 en inperking, maar Jacques berei nou voor vir die Beach Strongman-kompetisie wat aan die einde van September in Centurion gaan plaasvind. Daar is ook besluit om die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe met dié kompetisie te kombineer.

Dan is Jacques ook uitgenooi om aan die einde van November aan die Eden Fitness Africa Strongman deel te neem.

Yvonne se paadjie het ‘n bietjie anders geloop. Dié matriekleerder het vertel dat sy nooit regtig die regte ondersteuning gekry het om reg te oefen en te eet nie.

Yvonne van As in Mei 2020 voordat oefening haar passie geword het.

Sy het aanvanklik nie beplan om aan kompetisies deel te neem nie tot sy eendag besluit het dat sy wel goed genoeg was en dat sy wou begin oefen. Van daar het dit vir haar ‘n passie geword.

“My pa is my motivering; hy was daar deur dik en dun,” het sy vertel

Sy het op 28 Augustus aan haar heel eerste liggaamsboukompetisie deelgeneem waar sy teen deelnemers te staan gekom het wat die sport al jare beoefen. Sy het onder die top 10 geëindig.

Yvonne het vertel dat die kompetisie haar selfbeeld ‘n hupstoot gegee het en dat sy gesien het dat sy dit kan doen as sy wil.

Yvonne van As gedurende haar heel eerste liggaamsboukompetisie. Fotos: Verskaf.

“Jou kop moet net op die regte plek wees. Dit was intimiderend om almal om my te sien,” het sy gesê.

Jacques het vertel dat hy baie trots is op sy dogter omdat dit vir haar soms maar moeilik was. Hy het bygevoeg dat haar afrigter Charmaine Wilson ook ‘n groot rol in haar fisiese en emosionele welstand speel, en dat hulle dit nie sonder haar sou kon doen nie.

Vir nou wil Yvonne fokus op haar matriekeksamen, hard oefen en hopelik volgende jaar in Mei weer aan ‘n kompetisie deelneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button