Local sportSport

Plaaslike worpe-afrigter maak SA-span by wêreldspele touwys

Afrigter Eben Vermaas het vanjaar Suid-Afrika se atletiekspan na die o.20 Wêreld Atletiekkampioenskappe vergesel.

Sowat 958 atlete van 116 nasionale verenigings het aan vanjaar se o.20 Wêreld Atletiekkampioenskappe in Nairobi, Kenia deelgeneem.

Die Pierre Blignaut Gewigstoot en Diskus Akademie in Noordheuwel lewer al jare lank van die land en die wêreld se topatlete. Dit was dus geen verrassing nie toe een van hul afrigters gekies is vir die span wat na dié jaar se wêreldspele gestuur is.

Eben Vermaas het op Maandag, 16 Augustus twee van die akademie se worpe-atlete vergesel na die spele waar hy een van die Suid-Afrikaanse atletiekspan se afrigters vir die agt dae was. Vyf dae is gewy aan kwalifiserende en finale rondtes in die onderskeie atletiekitems.

“Ons het die Maandag geland en is eers laat die aand ingeboek. Dinsdag kon ons oefen. Sedert die Woensdag tot die Sondag het ons elke dag deelgeneem,” het Eben vertel.

“Ons span het uit 56 atlete en bestuurlede in die verskillende items bestaan. Daar was agt atlete vir die worpe-items – twee mansspiesgooiers, een vrouespiesgooier, een hamergooier, twee vrouegewigstoters waarvan die een ook diskus gedoen het, en die twee mansgewigstoters.”

Eben het verduidelik dat Atletiek Suid-Afrika elke kategorie se afrigters kies, en dat dié afrigters minstens ‘n ASA Vlak 3-kwalifikasie moet hê. Dit help ook as daar atlete in die span is wat jy self afrig.

“Nuwe protokole moes gevolg word – die atlete moes by verskillende plekke aanmeld voor hulle kon ingaan, en my taak was om hulle kalm te hou en raad te gee oor hul tegnieke voor en tydens die kompetisie, alhoewel hulle goed afgerig was. Terwyl hulle deelgeneem het, het ek byvoorbeeld gesê ek sien ‘n arm wat nie intrek nie, ensomeer. Dit is ‘n baie belangrike rol. Ons het nou met Simone Kruger by die Paralimpiese Spele gesien dat sy haar afrigters gemis het; sy het nie presteer soos ons weet sy kan nie.”

Klublede Dané Roets en DJ Liebenberg asook oudlid Juan Oosthuizen was saam met Eben.

DJ het sewende geëindig in die kwalifiserende rondte van die gewigstoot vir mans met ‘n gooi van 19.69m. Juan het in die eindrondte van die diskus vir mans 11de geëindig met ‘n gooi van 51.01m.

Eben het verduidelik dat Dané voor die kompetisie derde in die land was. Sy het haar posisie in die eindrondte van die gewigstoot vir vroue bevestig met ‘n gooi van 15.61m wat haar die brons besorg het.

Miné de Klerk het die eerste plek behaal in die eindrondte van die gewigstoot vir vroue met ‘n afstand van 17.401m, en was tweede in die eindrondte van die diskus vir vroue met ‘n afstand van 53.5m.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button