Laerskoolatleet sit vir o.17’s ore aan
Alhoewel Leoné gewigstoot as haar sterkpunt beskou, het sy ongeveer twee jaar gelede met diskus begin.
Oor die afgelope vyf jaar het plaaslike gewigstootatleet Leoné van Eeden ‘n krag geword om mee rekening te hou.
Die Graad 7-leerder van Laerskool Dr Havinga het reeds talle rekords laat spat op atletiekvelde regoor die land. Alhoewel Leoné gewigstoot as haar sterkpunt beskou, het sy ongeveer twee jaar gelede met diskus begin. Nou wil sy graag net so goed daarmee vaar as met gewigstoot.
Albei items is vir my baie interessant en dis lekker om die tegnieke te leer en dit te probeer vervolmaak,” het sy vertel.
Sy het onlangs haar persoonlike beste afstand in gewigstoot verbeter toe sy by die Gauteng Kampioenskappe ‘n uitmuntende 12,30m gegooi het. Haar persoonlike beste afstand in diskus staan tans op ‘n ongelooflike 33,32m.
Dit is dus geen verrassing nie dat Leoné se toegewydheid in die items haar reeds ‘n plek in Hoërskool Bastion se onderskeie spanne verseker het. Die 13-jarige het boonop vir o.17-atlete ore aangesit toe sy vir gewigstoot en vir diskus ‘n eerste plek by die Interhoër verower het. Sy is daar ook as die victrix ludorum aangewys.

Alhoewel sy sesde by die Gauteng Kampioenskappe in die o.15-ouderdomsgroep geëindig het, sien sy daarna uit om beter te vaar by die byeenkomste wat nog voorlê.
Ek wil graag vanjaar ook aan die Suid-Afrikaanse Klubkampioenskappe deelneem. My droom is om eendag Olimpiese Spele toe te gaan, en om ‘n afrigter te word, sou ek regtig goed word,” het Leoné met groot entoesiasme vertel.
Havies en Bastion is trots op die passievolle atleet en sien daarna uit om die paadjie na sukses saam met haar te stap.
