Pluimbal kry ‘n tuiste in Krugersdorp
Die West Rand Badminton Club is sedert Januarie oop en spelers het al aan hul eerste pluimbaltoernooi deelgeneem.
Vinniger as ‘n F1-renmotor en net so uitputtend, indien nie meer as ander balsporte nie; pluimbal is ‘n sport wat enigiemand maklik kan aanleer, maar dit verg fokus en uithouvermoë om ‘n kompeterende vlak te bereik.
Die sport met ‘n rakket, ‘n veerbal en ‘n net het ‘n ryk geskiedenis van so ver terug as antieke Griekeland en Sjina, maar die sport soos ons dit vandag ken is vir die eerste keer in 1873 in Engeland gespeel.
Sedert Januarie vanjaar kan Krugersdorpers weekliks self dié sportsoort geniet by die West Rand Badminton Club op Key West-winkelsentrum se vierde parkeervlak by ingang 7.
Reaan Immelman wou graag die sport in die dorp aan die gang kry om die jongklomp van nege tot 18 jaar oud ‘n liefde vir pluimbal aan te leer, en ‘n paar kampioene in die proses te lewer. Gevolglik het hy twee bane by die Action Sport-klub by Key West beskikbaar gestel, met planne om later nog twee bane by te voeg.
Dit is die vinnigste raketsport in die wêreld,” het Reaan verduidelik.
“Ek wil selfs sê dit is vinniger as Formula 1, veral as jy die pluimbal hard grond toe slaan (smash) sodat jou teenstander die hou kan misslaan. Daardie smash kan maklik teen 420km per uur beweeg.” Die vinnigste aangetekende spoed van ‘n pluimbal was in Maleisië in 2013 toe dit teen 493km per uur getrek het. Die vinnigste aangetekende spoed van ‘n gholfhou is 340km per uur.

Die klub fokus tans op nege- tot 13-jariges maar wil binnekort ouer kinders ook inneem.
Hulle het vroeër in Maart drie spelers na ‘n toernooi in Alberton toe gestuur waar hulle in die o.15-afdeling deelgeneem het, en een van hul spelers die kwarteindrondte gehaal het. Hulle het reeds begin voorberei vir die toernooie wat later dié jaar plaasvind.
Die klub het tans 12 permanente lede, maar so om en by 70 sosiale spelers kom per maand daar speel. Op Woensdae-aande kan enigiemand wat vooraf bespreek en baangelde betaal het, daar kom speel. Die baangelde word per uur bepaal, en die klub voorsien die toerusting soos rakette en pluimballe.
Vir meer inligting, besoek die klub se Facebook-blad by West Rand Badminton Club.

