Drie generasies van Blignauts in atletiek
Die bekende gewigstoot- en diskusafrigter Pierre Blignaut kan spog met drie generasies van atlete in sy familie.
Die liefde vir ‘n sportsoort kan dikwel maklik van ouer na kind, of selfs van grootouer na kleinkind oorgedra word indien die passie groot genoeg is.
Dit is presies wat met die talentvolle worpe-atleet en -afrigter Pierre Blignaut, sy seun Armand, en later sy kleindogters Milan en Annabelle gebeur het.
Pierre se atletiekloopbaan het reeds op ‘n jong ouderdom op skool begin. Hy het van Kaapstad af Krugersdorp toe verhuis waar hy op hoërskool reeds begin naam maak het.
Maar, het hy nederig vertel, “Ek was ‘n goeie atleet maar nie die beste nie; kom ons sê ek was so vierde beste in gewigstoot. Ek was nie goed genoeg vir Springbok-kleure nie. Ek het eers op so 42 my meesters in afrigting gedoen en my Springbok-kleure daarmee saam gekry.”
Na skool is Pierre Polisiemag toe en was later by die Inligtingsdiens tot hy in 1994 afgetree het. Daar het hy vir jare aan interdistrik- en interafdelingkompetisies in gewigstoot deelgeneem, en so die Wes-Rand sterk verteenwoordig.
Ek het baie vroeg begin afrigtingskursusse doen. Die Polisie het my daarvoor gestuur en daarvoor betaal. Ek het baie vroeg al die hoogste kwalifikasies gehad.”
Pierre was vir ‘n paar jaar by verskeie ondernemings betrokke, maar toe Armand hom tien jaar na sy aftrede uit die polisie vra om ‘n kind by The King’s School te help afrig, het hy eers nee gesê maar tog weer ‘n nuwe liefde vir die sport ontwikkel.
Hy het ‘n dekade lank by Hoërskool Monument afgerig, en tussendeur worpe-atlete by Laerskool Florida, die Universiteit van Johannesburg en die Noordwes Universiteit se Potchefstroom Kampus afgerig, en die Pierre Blignaut Gewigstoot en Diskus Akademie gestig.
In 2019 het hy Hoërskool Noordheuwel se fasiliteite begin gebruik omdat dit meer geskik was vir die talentvolle Kyle Blignaut (geen verwantskap nie). Kyle het verlede jaar aan die Olimpiese Spele in Japan deelgeneem waar hy uiteindelik ‘n sesde plek behaal het.

Armand het op laerskool in sy pa se voetspore begin volg en het selfs in Graad 7 die Wes-Randse rekord vir sy ouderdomsgroep in hoogspring gebreek. “Ek het daarna aan die Transvaal Kampioenskappe deelgeneem en uitgeval. Ek het nie eers so vêr gevorder soos my twee dogters nie,” het hy laggend verduidelik.
Sy aandag het meer na rugby toe verskuif en in Monnas is hy onder andere vir die Craven Week gekies. Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch rugby afgerig, later vyf jaar lank aan die Wes-Rand skoolgehou waar hy ook sport afgerig het voor hy uiteindelik by die prokureurswese betrokke geraak het – ‘n beroep wat hy vandag nog beoefen.
Nou is al sy sportaandag op sy twee dogters gevestig.
Sy jongste, Anabelle, is vanjaar 11 jaar oud en ‘n leerder by Laerskool Protearif. Nog voor sy op skoolvlak aan gewigstoot kon deelneem het sy by haar oupa in Noordheuwel geoefen.
Ons kon nog nie laasjaar gewigstoot doen nie, maar my oupa het my klaar geleer hoe om die basiese goed te doen, en toe hoe om al my foute reg te maak.”
Anabelle het aan die einde van Maart saam met haar suster aan die Nasionale Laerskole Baan- en Veldkampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem. Hier het sy ‘n vierde plek behaal onder 15 atlete van oor Suid-Afrika, met ‘n gooi van 10,43 meter. Maar, het sy verduidelik, “Ek het dit met net ‘n paar sentimeter gemis. Ek het ook hoogspring gedoen tot en met Gauteng, en hekkies tot by D2. Maar ek geniet meer die hoogspring en gewigstoot. Ek hou nie van hekkies nie,” het sy met ‘n skaam glimlag vertel.
Milan is hierdie jaar 13 en het vertel dat sy al in Graad R met atletiek begin het. “Toe kon jy nie veel doen behalwe naellope nie. Ek was goed daarin, en as jy klein is kan jy net gaan tot by D2, en ek het die meeste van die tyd by D2 gewen. Ek het in Graad 4 alles gedoen wat ek kon, maar ek was goed met die hekkies en hoogspring. Ek het net al hoe meer hoogspring begin doen.”
In Graad 5 het sy die Gauteng Kampioenskappe vir hoogspring en verspring gehaal, maar in die Covid-grendeltyd kon sy nie deelneem nie.
Hierdie jaar het Milan derde by die Gauteng Kampioenskappe geëindig en deurgedring na die Nasionale kampioenskap waar sy ‘n sesde plek behaal het onder 20 deelnemers.
Ek het nog altyd gehou van aktief wees en dit geniet om buite te oefen en goed te doen. Na ‘n ruk is jy nie meer altyd lus net om te hardloop nie, en toe ons ander goed kon doen was dit baie lekker om hoogspring te gaan doen, of enigiets wat met spring te doen het.”
