Local newsSport

Jong meisie maak naam in die bokskryt

Sy is net 18 jaar oud maar Jo-lee van Tonder is besig om naam te maak in die bokskryt.

Jo-Lee van Tonder se deelname aan beide die Gauteng- en SA Bokskampioenskappe is bewyse dat sy haar doelwitte bereik en die sport baie ernstig opneem.

Sy mik nou na nog hoër hoogtes en oorweeg ook sterk ‘n loopbaan in die sport aangesien sy een van haar grootste drome by die kampioenskappe bewaarheid het.

Die 18-jarige lyk op die oog af soos ‘n klein meisie. Die dissipline en selfvertrou merk jy dadelik op in die manier hoe sy loop en praat. Sy vertel dat sy nooit ‘n hokkie- of netbalmeisie was nie en het op ‘n dag gesien hoe daar by ‘n plaaslike boksklub geoefen word, en het net daar besluit om aan te sluit.

Phillip du Randt en Jo-Lee van Tonder na ‘n groot wen.

“Almal het altyd gesê meisies moenie boks nie en dat dit nie ‘n sport vir meisies is nie. Daar is ook gesê ek gaan net seerkry. Ek het my glad nie daaraan gesteur nie. Ek het toe gedink ‘weet jy wat, ek is baie avontuurlustig en ek wil dit probeer’.”

Sy het sommer dadelik op die sport verlief geraak en agtergekom dat dit haar help met haar selfvertroue, selfbeeld en natuurlik haar selfverdediging. Maar steeds het sy gevoel sy word nie ernstig opgeneem nie.

Na ‘n jaar het hulle verhuis en sy het by die Vikings Boksklub in Krugersdorp-Noord aangesluit. Sy en haar ma het gehou van hul oefenstyl en dat hulle individuele aandag aan elke kind gee.

“Maak nie saak of jy ‘n meisie of ‘n seun is nie, as hulle sien jy vat dit ernstig op en jy het talent, dan fokus hulle op jou.”

Eers was dit moeilik om by te hou en het gesê, “Meeste van die atlete is seuns en omdat hulle biologies baie sterker en vinniger is, was dit moeilik om by te bly.”

Later het sy resultate begin sien en aan haar eerste toernooi deelgeneem. Sy was senuweeagtig omdat oefening en deelname twee verskillende dinge is.

“Wanneer jy oefen wys hulle jou mooi en leer jou, maar in ‘n geveg moet jy weet wat om te doen.”

Die eerste hou wat sy ontvang het was ook ‘n bietjie van ‘n skok vir die sisteem. Sy verduidelik sy het vinnig oor dit gekom en aanbeweeg. Vandag voel sy nie eers meer die houe nie.

“Ek het die geveg gewen en dit het die bal aan die rol gesit vir my. Die adrenalien wat deur my liggaam gepomp het was ongelooflik. Ek was stukkend geslaan ek het ‘n blou oog, stukkende lip en ‘n blou ken van die kopskerm gehad, maar dit was die moeite werd gewees.”

Jo-lee van Tonder is altyd reg vir ‘n geveg in die kryt.

Boks het haar geleer om kalm te bly in situasies en hoe om haar angs te hanteer.

“In baie situasies raak jy angstig en dit is ‘flight or fight’. Boks het gehelp dat ek kalm en koelkop bly. Iets wat beslis deurtrek na jou ‘elke dag’ toe.”

Dit het haar ook geleer om eers ‘n situasie uit te kyk en te weet waarvoor sy kans sien, en waarvoor nie.

“Dit het my ook gehelp met my uithouvermoë en om te weet al is dinge nou moeilik, moet ek vir my klein doelwitte stel en op die einde gaan dit uitwerk.”

Al het mense nie altyd prontuit gesê dat hulle glo die sport nie vir meisies is nie, kon Van Tonder dit tog in hulle houding sien, veral wanneer sy tydens oefening teen ‘n seun of man moes boks en hulle dit nie ernstig opgeneem het nie.

“Ek wens meer vrouens en meisie wil deelneem aan die sport, dit is regtig nie so rof nie, mense het ‘n wanindruk van die sport. Dit is so lekker om ander meisies by die toernooie te sien en al is ons opponente, is amal vriende na die tyd. Meisies wat ‘n passie deel in so ‘n mans georiënteerde sport – dit is spesiaal om te hê.”

Haar raad aan ander meisies en vrouens wat wil boks is om dit net te doen en nie twee keer daaroor te dink nie.

“Moenie bang wees om dom te lyk nie, moenie skaam wees of bekommer oor wat mense sê nie. As jy dink jy het ‘n passie daarvoor, of al wil jy net gewig verloor – doen dit. Dit is anders as enige ander sport, al is dit nie ‘n spansport nie bou jy steeds familiebande.”

Van Tonder wil graag haar afrigters Phillip du Randt, Hendrik du Plooy, Willem Nell asook die hele Vickings-gemeenskap bedank vir hul ondersteuning.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button