Sport

Gholf met ‘n liefdadigheids-doel

Die gemeenskap het in groot getalle opgedaag by die Krugersdorp Gholfklub om 'n plaaslike sekuriteitsmaatskappy se gholfdag te ondersteun.

‘n Plaaslike sekuriteitsmaatskappy het op 12 April ‘n gholfdag met die einddoel om alle winste tussen liefdadigheidsorganisasies te verdeel, aangebied.

Volgens Mapogo A Mathamanga se woordvoerder Sanmarie Schlebusch, was die gholfdag by die Krugersdorp Gholfklub ‘n reuse sukses.

“Ons hou daarvan om die gemeenskap te ondersteun en om mense bewus te maak van die kwessies in die dorp. Die dag was vol bespreek met 148 mense wat deelgeneem het, ons is in ons noppies,” het Sanmarie gesê.

Antoni de Waal, Douglas Austen en Lee Johnson het die gholfdag geniet.

Sy sê die belangrikste doel van die dag was om die gemeenskap te ondersteun, deur al die winste tussen sewe liefdadigheidsorganisasies te verdeel, naamlik, Huis El Shaddai, Môreglans Ouetehuis, Wings of Inspiration, Door of Care and Safety, Krugersdorp en Randfontein DBVs en plaaslike skole en kerke.

“Die fondse gaan deur die loop van die jaar tussen die genoemde liefdadigheidsorganisasies versprei word,” het Sanmarie gesê.

Janco Tiedt slaan ‘n plofhou.

Jan Nel, een van die deelnemers het bygevoeg “Die dag was opwindend. Dit is wonderlik om die gemeenskap so bymekaar te sien.”

Levi Matlapeng, ‘n caddie, sê dat hy veral die sportgees van ‘n gholfdag geniet.

 
Back to top button