Sport

Monnas wen derby vol sportmangees

Monnas se Witbulle moes vasbyt vir 'n naelbyt sege van 36–33 oor Nories in 'n Noordvaalbeker-derby.

Die News het Saterdag die Noordvaalbeker-derby tussen Hoërskool Monument (Monnas) en Hoërskool Noordheuwel (Nories) aanskou waar Monnas agt uit die 13 kragmetings gewen het.

Die weer was ideaal vir die grootste plaaslike derby in die dorp, en daar was ‘n gevoel van trots en mededingendheid in die lug. Die skare was massief, met ‘n geskatte 7 000 ondersteuners wat dit bygewoon het.

‘n Groot Witbul-vlag word omhoog gehou voordat Monnas se eerste span uitdraf.

Beide Nories- en Monnas-leerders het die pawiljoene vol gesit. Daar was ook honderde trotse oud-leerders van die skole wat skooldasse, hoedjies en jasse gedra het om hul alma maters te bevorder. Monnas wou sy naam in dié derby verstewig siende dat hulle die vorige twee wedstryde gewen het, terwyl Nories ’n einde aan die Witbulle se oorheersing wou maak. “Dié plaaslike derby is een van die grootstes,” het Noordvaalbeker-organiseerder Daniel Gibhard gesê.

JD Landsberg wat ‘n Witbul-speler druk.

Almal het in angs gewag vir die eerste spanne se langverwagte ontmoe-ting op die veld. Die afskop was 12:30 en Monnas het binne die eerste 15 minute hul eerste drie gedruk. Die eerste helfte was ‘n taai affêre waar beide skole hul beste voet wou voorsit. Teen halftyd was Monnas net-net voor met die telbord wat 22–20 gelees het.

Monnas se gelukbringer, Bulletjie.

Die tweede helfte het veroorsaak dat die toeskouers hul naels begin kou.

Die laaste 10 minute was deurslaggewend, en met die Witbulle wat met slegs drie punte voor was, moes hulle verdedig soos nog nooit tevore nie – dit alles danksy Nories se doelgerugtigheid om aan te hou veg. Ongelukkig was dit nie Nories se dag nie, ten spyte van hul aanhoudende aanvalle en ‘n verlore aangee wat by die kantlyn uitgerol het. Die eindfluitjie het geblaas, en die Witbulle het ‘n triomf van 36–33 verseker.

Jaco de Wet, Mariëtte Scheepers, Carike Loots, Kaylene de Wet en Brenden Britz wat die wedstryd geniet.

Hoofafrigter van die Witbulle, Tjaart van der Walt, het gesê hul wen kan toegeskryf word aan goeie beplanning, spanwerk en ‘Monnas guts’.

Nories se Ignatius Jantjies gee die bal aan.

“Dit is moeilik om die beste spelers uit te sonder, vir my het almal hul deel gedoen Saterdag. In enige wedstryd is daar ‘n moontlikheid van verloor, ek glo egter ook dat die Ras van Rooyen-veld ‘n groot rol speel vir elke Monumentaar wat daar uitdraf. Ons het die wedstryd soos enige ander ligawedstryd benader en is bly vir die volle vyf ligapunte wat ons gekry het. Dankie ook aan die personeel en gemeenskap wat die dag spesiaal gemaak het,” het Tjaart bygevoeg.

Daniël Loots en Donovan Britz wat die wedstryd geniet.

Noordheuwel se hoof, Dawie Kriel het gesê dat die telling ‘n goeie weerspieëling was van die vertoning.

Mia van Niekerk, Marion Wolmarans, Carla Oosthuizen, Nina de Beer en Reeche Mestre wat Nories ondersteun.

“Die bal was baie goed op die veld rondgeskuif. Dit wys die goeie ‘brand’ van rugby met ‘n goeie mengsel tussen die voor- en agterspelers,” het hy bygevoeg.

Brad Brown en Jaques Botha wys goeie sportmanskap.

Ander uitslae:

• o14A: Nories wen 8–3
• o14B: Monnas wen 22–20
• o14C: Nories wen 21–14
• o15A: Monnas wen 17–3
• o15B: Monnas wen 19–17
• o15C: Nories wen 21–14
• o16A: Nories wen 30–20
• o16B: Monnas wen 34–17
• o16C: Monnas wen 32–14
• Vierde span: Monnas wen 30–12
• Derdes span: Monnas wen 26–10
• Tweede span: Nories wen 28–21

 
Back to top button