Sport

Meer as 600 in aksie tydens Mullies mini-sportdag

Die liefde vir rugby en netbal onder die jongklomp is duidelik tydens Mullies se mini-sportdag.

Honderde rugbyseuns en netbaldogters te same met hul sportmal ouers van ses skole regoor die Wes-Rand het onlangs Laerskool Muldersdrif se mini-sportdag bygewoon.

Volgens Matthew du Toit, rugby-organiseerder by Mullies, was ‘n totaal van 620 leerders in aksie – 396 daarvan was Tau-rugbyseuns (o6, o7 en o8) en 224 mini-netbaldogters. Skole betrokke sluit in die gasheer Mullies, Dr Havinga, Helderkruin, Protearif, Monument Primary en Trinityhouse Randpark Ridge.

Liam Jansen van Rensburg van Proties op die aanval.

Hy het bygevoeg 51 rugbykragmetings en 32 netbalwedstryde het plaasgevind op die dag.

“Die dag was ‘n geleentheid om verhoudings met ander puik skole te versterk deur vir hulle die geleentheid aan te bied waar hul leerders in ‘n veilige en georganiseerde wyse kan deelneem en verbeter. Die groot doel van die geleentheid is om soveel as moontlike leerders bloot te stel aan die genot van sport en ‘n passie vir rugby en netbal te kweek.

G’n keer aan Kruiners se Callum Krause.

“Die wyse waarop sport verhoudings tussen vriende bou, selfbeheersing, uithouvermoë, respek, eerlikheid en verantwoordelikheid in ‘n jong leerder se lewe kan anker. Dié dag is daar sodat ons ‘n samelewing kan kweek wat nie net talente ten toon stel nie, maar ook onbesproke karakter,” het hy gesê.

‘n Trinityhouse Randpark Ridge-speler met bal in hand probeer ‘n opponent vermy.

En van talent gepraat het Matthew gesê daar was g’n tekort nie.

Kruiners se Aiden Lourens op die aanval.

“Die toekoms vir Suid-Afrikaanse skole lyk helder. Sport is ‘n kardinale deel van Suid-Afrikaanse huisgesinne en het die krag om verskeie mense nader aan mekaar te bring. Die talent is nie die helderste ding wat ten toon gestel was nie maar die onbesproke karakter wat elke leerder geleer en uitgebeeld het.”

Mbali Segaetsho van Mullies in aksie.

Wat die organisering aanbetref het, het Matthew bygevoeg hul was meer as tevrede gewees.

Monument Primary was nog ‘n plaaslike skool betrokke.

“Om so dag aan te bied is in werklikheid nie in die organiseerders se hande nie maar in die van die personeel, sonder hulle is die dag nie moontlik nie. Van die kantoor personeel wat programme druk tot die laaste vlagie wat na die dag opgeruim word. Dit is ‘n wonderlike byeenkoms waar God se genade duidelik uitgebeeld word want sonder sy genade sou niks moontlik kon wees nie.”

Check Also
Close
 
Back to top button