Podiumwenner: Monnas se Eduan behaal spoggerige eerste plek in Brits
Eduan Bruwer van Monnas het die podium gehaal ná ’n sterk vertoning by die meer as 90km-lange Bosveld Bergfietswedren in Brits.
Hoërskool Monument-leerder, Eduan Bruwer (graad 11), het onlangs aan die taai 91km Bosveld Bergfietswedren in Brits deelgeneem en ‘n spoggerige eerste plek op die podium gehaal.
Eduan het in graad 7 al saam met Monnas se bergfietspan begin oefen en neem jaarliks deel aan die skole se Cycle Lab Gauteng-reeks.
Monnas se bergfietsafrigter, Tania Kempenaars Kelfkens, het gesê hy neem jaarliks deel aan die reeks en het al verskeie podiumplekke behaal. Hy het ook al aan talle ander wedrenne deelgeneem.
Tania het trots aangekondig dat hy algehele wenner was vir die juniors.
“Eduan oefen hard en sit ongelooflik baie ure in saam met sy oefenmaat. Dit verg selfdissipline, reg eet en rus wanneer hy kan,” sê Tania.
Sy vertel verder dat Eduan droom om vanjaar vir Monnas, asook Gauteng, tydens die Nasionale Skole Bergfietskampioenskappe te verteenwoordig. Monnas bied op 13 September die Cycle Lab Gauteng Bergfietsfinaal aan, waarna die Gautengspanne aangekondig sal word.
“Monnas is baie trots op Eduan en die res van die bergfietsspan wat so goed presteer. Liewer slyt as roes,” het sy bygevoeg.
Sy ma, Erika Bruwer, het vertel dat mens as ouer te dankbaar is dat jou kind ’n resies ongedeerd voltooi en daar is soveel faktore wat ’n rol speel.
“Jy kan fisies op jou beste voel, maar iets kan verkeerd gaan met jou fiets. ‘n Wen maak beslis die vroeë oggende die moeite werd. Ons is ongelooflik trots op hom. Ons weet hy werk baie hard en sit die ure in – die resultate wys dit. Wat regtig vir my belangrik is, is dat hy ’n verlies net so goed soos ’n wen hanteer en nederig bly!” het sy afgesluit.
