Sport

Twee oud-Nories wen wêreldbeker saam met Junior Bokke

Twee voormalige Hoërskool Noordheuwel-leerders het die Junior Bokke gehelp om die Junior Rugbywêreldbeker te wen en hul talent op die wêreldverhoog te wys.

Twee oud-leerders van Hoërskool Noordheuwel het hul merk in SA Rugby gemaak deur saam met die Junior Bokke die Junior Rugbywêreldbeker te wen.

Jaundre Schoeman (20) en Cheswill Jooste (18) se agent, Kobus Porter – geakkrediteer by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie – het bevestig dat albei kontrakte by die Blou Bulle gekry het. Cheswill is reeds deel van die senior Curriebeker-span, terwyl Jaundre by die o.21 Curriebeker-span speel.

“Hulle was verlede jaar reeds in die SA o.20-groep en het uiteindelik die finale span gehaal wat aan die wêreldbeker deelgeneem het,” sê Porter.

Jaundre, ’n haker, word beskryf as ’n fisieke speler wat uitstekend in die lynstaan ingooi, sterk skrum en gevaarlik bal dra. Cheswill, ’n vleuel, is bekend vir sy spoed, balvaardigheid en aftrappe, en word as ’n ware drieëvraat beskou.

Volgens Porter was die twee Nories oorstelp van vreugde toe die Junior Bokke die eindstryd gewen het.

Jaundre Schoeman. Foto: SA Rugby/Gallo Images.

Die Junior Bokke, of Baba Bokke soos hulle ook bekend staan, het in die groepfase oortuigend gewen: 73–17 teen Australië, 32–22 teen Engeland en 73–14 teen Skotland. In die halfeindstryd het hulle Argentinië 48–24 geklop voordat hulle in die eindstryd teen die Baby Blacks (Nieu-Seeland) uitgedraf en 23–15 geseëvier het om as wêreldkampioene gekroon te word.

“Ek dink almal het gou besef dat titel-glorie moontlik was, veral ná die eerste wedstryd,” sê Porter. “Cheswill het die hele toernooi uitstekend gespeel en was een van die beste spelers in die span. Jaundre het groot impak van die bank af gemaak en was betrokke by die laaste omkeerbesit wat die wenskop vir Suid-Afrika opgelewer het.”

Porter het bevestig dat Cheswill intussen ook genooi is om saam met die Springbok-groep te oefen en waarskynlik sy buiging in vanjaar se United Rugby Championship (URC) sal maak. Jaundre is deel van die Bulle se Curriebeker- en URC-groep en herstel tans van ’n ligte besering.

Cheswill Jooste. Foto: SA Rugby/Gallo Images.

“Hulle is hardwerkend, het ’n blink toekoms en mik om die groen-en-goud aan te trek. Hulle is trotse Nories en het puik rugby gespeel,” sê Porter.

Norie-afrigter Stefan “Botter” Lourens het sy trots uitgespreek.

“Ek sien ’n helder rugbytoekoms vir hulle. Hulle speel volwasse rugby met merkbaar verbeterde vaardighede. Nories is ongelooflik trots op die twee manne.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button