Noordvaalbeker-semi’s: Vier Noordheuwel-spanne, een groot opwinding
Ondersteuners van Hoërskool Noordheuwel kan nie wag vir Saterdag nie, wanneer vier Nories-spanne by Helpmekaar Kollege alles sal gee in die semifinaal van die SDC Noordvaalbeker.
Johannesburg kan Saterdag, 23 Augustus, ’n blou golf van Krugersdorp verwag wanneer vier rugbyspanne van Hoërskool Noordheuwel in die semifinaal van vanjaar se SDC Noordvaalbeker (A-afdeling) uitgedraf kom.
Die o.14A-span pak Monnas om 08:45, die o.15A-span speel teen Helpmekaar om 09:55, die o.16A-span staan teen Monnas om 11:00 en die eerste span draf om 12:30 teen Helpmekaar uit. Al die wedstryde vind plaas by Helpmekaar Kollege.
Hoewel Nories-ondersteuners trots en opgewonde is oor al vier spanne, is die fokus veral op die Nories Blues, die eerste span.
Hulle het die liga afgeskop met ’n swaar nederlaag van 36–0 teen Helpmekaar, maar het daarna sewe wedstryde agtereenvolgens gewen. Hoogtepunte sluit in ’n 43–27 oorwinning teen Monnas in die Krugersdorp-derby en ’n 28–22 sege teen Garsfontein, die huidige ligaleier. Nories Blues is boonop die enigste span wat vanjaar daarin geslaag het om Garsies te klop. Die span het uiteindelik derde geëindig op die ligatabel uit tien skole.
Volgens Botter Lourens, direkteur van rugby en afrigter van die eerste span, is die laaste voorbereidings reeds aan die gang.
“In ’n semifinaal staan albei spanne ’n 50/50 kans. Die uitslag kan enige kant toe gaan en ons staan ’n goeie kans om te wen. Die plan is om by dit te hou wat vir ons gewerk het, net beter. Spelers sien beslis uit na die uitdaging en is vasbeslote om hul alles te gee,” het hy gesê.
