Local sport

Jong gholftalent Luken jaag Meesters-droom

Van ’n ‘hole-in-one’ tot internasionale oorwinnings – die sewejarige Kennie, Luken Meintjes, se gholfreis kry al hoe meer momentum.

Luken Meintjes droom daarvan om eendag die Meesterstoernooi te wen, en hy is reeds goed op pad met ’n reeks internasionale prestasies agter sy naam.

Luken is tans sewe jaar oud en speel al meer as die helfte van sy lewe gholf. Hy het reeds verskeie merkwaardige prestasies behaal. Volgens sy pa, Barries Meintjes, is sy seun se voorgee-indeks reeds twee.

Volgens GolfRSA https://golfrsa.com/definitions/ is ’n voorgee-indeks ’n aanduiding van ’n gholfspeler se potensiaal. Dit word bereken as 96% van die gemiddeld van die beste 10 differensiale uit die laaste 20 rondtes.

Luken Meintjes het al talle toernooie gewen. Foto ingestuur

Luken speel gewoonlik op sy tuisbaan by die Krugersdorp Gholfklub en neem jaarliks aan tussen 16 en 20 SA Kids Golf-toernooie deel. Die Laerskool Kenmare-leerder het ook reeds aan internasionale toernooie deelgeneem. Barries vertel dat sy hoogste prestasie tot dusver ’n derde plek by die Champion of Champions World Championships in Noord-Ierland in Julie verlede jaar is.

Sy mees onlangse internasionale toernooi was in Zimbabwe, waar Luken einde Maart die Heritage Golf Championship gewen het. Hy het ook reeds 10 SA Kids-toernooie gewen sedert hy begin speel het.

Lees ook: Mullies-duo na provinsiale proewe

Luken Meintjes in aksie. Foto ingestuur
Luken Meintjes in aksie. Foto ingestuur

“Luken se liefde vir die sport is ongelooflik. Hy werk hard omdat hy dit so geniet, en die sport leer hom meer as net gholf – dit leer hom ook oor die lewe, respek, etiket en deursettingsvermoë,” sê Barries.

Barries sê hulle kan nie trotser wees op sy prestasies nie.

“Wat my en my vrou nog trotser maak, is om te sien hoe ’n jong seun reeds so hard werk aan iets waarvoor hy lief is.”

Luken se beste telling is twee onder baansyfer. Volgens Barries speel hy gereeld een onder baansyfer en selde meer as vier oor.

“Maar met gholf kry jy ook dae wat hy sommer 10 oor speel. Gholf is ’n baie moeilike sport, veral geestelik.”

Sy laaste vier tellings was in Zimbabwe: in ’n oefenrondte het hy een onder gespeel, dag een gelyk met baansyfer, en dag twee en drie twee onder. Hy het die toernooi op vier onder baansyfer geëindig.

Luken se gholfrolmodel is Simon du Plooy.

Luken Meintjes. Foto ingestuur

“Hy speel professioneel op die Sunshine Tour en is naby aan ons. Wat Luken se spel baie help, is om hom by toernooie dop te hou en te sien dat, maak nie saak hoe goed jy is nie, dit normaal is om soms foute te maak. Hy leer ook hoe om terug te veg en sy foute reg te stel.”

Barries voeg by dat Luken ook die jongste Afrikaner is wat al ooit ’n ‘hole-in-one’ geslaan het – op ses jaar en twee maande tydens ’n SA Kids-toernooi in 2024 (Africa Junior Challenge) by San Lameer se negende putjie.

“Ons is ook baie bevoorreg om by die Krugersdorp Gholfklub te kan speel. Al die lede ondersteun Luken geweldig baie. Sy grootste ondersteuner is sy sussie, Lihanke, wat by elke toernooi is om hom aan te moedig,” het Barries afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button