Noordskool trots op rugbyduo se prestasie
Twee jong rugbyspelers het hul staal teen van die land se sterkste o13-provinsiale spanne gewys en waardevolle ervaring opgedoen.
Twee leerders van Laerskool Krugersdorp-Noord het onlangs aan die Goue Leeus se o13-Akademieweek in Bloemfontein deelgeneem.
Volgens die skool se woordvoerder, Quintin Botha, het Marku Joubert (haker) en Dean Jordaan (slot) gedurende die week teen sterk provinsiale spanne, waaronder die Luipaarde, Limpopo Bulle, die Valke en Boland, meegeding.
Botha het gesê die geleentheid het die spelers die kans gebied om hul talent op provinsiale vlak ten toon te stel en waardevolle wedstrydervaring teen van die land se beste jong rugbyspelers op te doen.
“Ons wens Marku en Dean geluk met hierdie besondere prestasie. Hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë is ‘n voorbeeld vir hul mede-Nories. Die skool is trots daarop dat hulle Noordskool se naam met eer verteenwoordig het,” het hy gesê.
