EntertainmentLifestyle

Randfontein Skou dié jaar groter en beter

Die Randfontein Skou is bekend vir sy liplekker-kos en hope vermaak.

Die Randfontein Publisiteitsvereniging nooi almal hartlik uit na die 2014 Randfontein Skou wat van 26 Februarie tot 1 Maart gehou word.

“Ons sien uit om skoubesoekers te bederf met vermaak uit die boonste rakke, lekker kuier, heerlike kos en ‘n wye verskeidenheid stalletjies” sê Marcelle Mans, die skoukoördineerder.

“Met optredes van kunstenaars soos Pieter Koen, ADAM, Mwah en Ricus Nel van die Jukebox Roadshow, Andriëtte, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren, Bongi, Gerhard Steyn, Liza Bronner, Candy, Bosveldklong, Blackie Swart, Anton Botha, Tanya V en Dawid Wasserfall gaan skoubesoekers se voete jeuk,” sê Marcelle.

Verskeie kompetisies word ook aangebied soos die Pom Pom en “Cheerleading” met Ampie as gaskunstenaar, en boogskiet-, hengel- en babakompetisies. Skougangers kan ook ‘n “smart-phone” of ‘n rit in ‘n warmlugballon wen.

Vermaak in die buitelugarena sluit die gewilde Sterkman-vertoning, Rofstoei, Ope Boerboelskou, Gumboot Dansers, Straatmusikante en ‘n splinternuwe skaatsbaan in.

Daar is ook ‘n klimmuur, bungee-trampolien, rodeobul, ‘n simuleerder, mallemeule, kameelritte, spookhuis, ‘n Aqua Roller, stampkarre en “Shooting Tunnel” vir die kinders.

Hierdie jaar is daar meer uitstallers wat die manne en buitelugentoesiaste se aandag gaan trek. Die 4×4 hindernisbaan en die buitelewe-uitstalling wat visvang en boogskiet insluit, gaan die hele skousaal en buite-area beslaan. Daar is ook hengeldemonstrasies en kampeertoerusting.

“Ons het besluit om die biddae vir mans en vroue te kombineer en bied Saterdag 1 Maart van 9vm tot 10vm ‘n familiebiduur aan. Lofsang begin reeds om 8.30vm. Die tema is Familiefondamente en die spesiale gas is Bobby van Jaarsveld.

‘n Tiende van die oggend se hekgelde word aan liefdadigheid geskenk.

Randfontein Skou is ook bekend vir sy liplekker-kos. Die nuwe Portugese Cantina gaan heerlike espetadas, pregos, galinha, faturas en caipirinhas bedien.

Daar is ook Chinese, Japanese, Duitse, Turkse en Italiaanse kosstalletjie en moenie die heerlike roosterkoek, afval, kerrie-en-rys, hamburgers, vetkoek, oliebolle en pannekoek vergeet nie. Die biertuine, wyntent en talle koeldrankstalletjies is ook daar vir die droë kele.

Die Randfontein Skou gaan oor kuier, kyk, klets en koop. Moet dit nie misloop nie! Dagboek nou die datums en nooi jou familie en vriende saam vir een groot lekker kuier.

Vir enige navrae skakel die Skoukantoor by 011 412 2878 of 1562, faks 011 692 3017, of besoek die webblad www.randfonteininfo.co.za, of epos rftnshow@absamail.co.za of volg hulle op facebook en twitter.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button