Manne wat ‘n voorreg – Toks en Tjops by Nories
Clinton Botha, redakteur van die News se suster koerant, Randfontein Herald, het onlangs 'n aand saam met die Toks en Tjoks span geniet toe een van hul programme by Hoërskool Noordheuwel opgeneem is.
“Manne, dis ‘n voorreg …”
Hierdie woorde in Ricus Nel se treffer, Hardekole, het Clinton Botha, redakteur van die News se suster koerant, Randfontein Herald, se ervaring weerspieël toe die gewilde kykNET-kletsprogram, Toks en Tjops by Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp op 31 Mei opgeneem en regstreeks gebeeldsend is. Ricus was die gaskunstenaar.

Daar is baie geëet, lekker gekuier, saam gelag en gesels oor die jongste sportgebeure, en gesakkie-sakkie. Noordheuwel kan beslis ‘n klop op die skouer kry vir die smullekker kos wat voorgesit is.
Hierdie redakteur het boonop aan een van die tafels gesit wat die naaste aan die verhoog was waar Toks van der Linde, Breyton Paulse, Janina Oberholzer en Chef Vaatjie gesit het.

Gesoute Springbok, Tendai Beast Mtawarira en Marius Schoeman, voormalige Blitsbok wat die huidige hoëprestasiebe-stuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie is, was die ander gaste. ‘n Voormalige Springbok, Wahl Bartmann was in die gehoor.
Ricus het ‘n paar keer sy gewilde Hardekole, wat hy oorspronklik saam met Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse opgeneem het, uit volle bors gesing. Dié plaasboer het gesê die lied het hom behoorlik op die map gesit. Op ‘n ernstiger noot is daar gepraat oor vyftienmanrugby en die kommer oor die aantal spelers wat die land verlaat en groener weivelde soek.

Volgens Tendai, het Springbok-afrigter Rassie Erasmus wel ‘n plan om almal by die Wêreldbekertoernooi in Japan te verras en sy span te laat goed vaar. Hy het erken dat die All Blacks ongetwyfeld die gunste-lingspan is om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, maar dat hy nog nooit so goed voorbereid was soos vir dié groot skouspel nie. Hy het vertel dat al die spelers in die Springbok-groep ook baie gefokus is en ons nie sal teleurstel nie. Sy bynaam, Beast, het ook gereeld weerklink. Wat sewesrugby betref weet almal waartoe die Blitsbokke in staat is. Volgens Marius kom daar goeie jong spelers deur die sisteme en wys dit op die veld. Breyton en Toks het tussendeur die gehoor byna van hul stoele laat afval met hul grappe en kwinkslae.
Die regstreekse uitsending was ook op die vooraand van die twee Krugersdorp-skole, Monnas en Nories, se reuse Virseker-bekerkragmeting.

Volgens Rocky Truter, die Nories-rugbydirekteur, het die twee skole mekaar 15 jaar laas gepak omdat Nories hulle aan ligarugby onttrek het.
Die Monnas-eersterugbyspan, ook bekend as die Wit Bulle, het die volgende dag die wedstryd met 43–27 gewen.
