EntertainmentLifestyle

Krugersdorp se Kokkedoor

Alhoewel Ralph niks mag verklap oor die uitkoms van die TV-reeks wat reeds 'n paar maande gelede klaar opgeneem is nie, het hy heel opgewonde gesels oor sy ervaring toe die program geskiet is.

Is dit moontlik dat die volgende groot Kokkedoor hier tussen ons woon? Die kanse is goed wanneer jy vir Ralph Farmer ontmoet en met hom gesels oor sy deelname aan die derde seisoen van kykNET se Kokkedoor.

Alhoewel Ralph niks mag verklap oor die uitkoms van die TV-reeks wat reeds ‘n paar maande gelede klaar opgeneem is nie, het hy heel opgewonde gesels oor sy ervaring toe die program geskiet is. “Ek en my lewensmaat, Martin Boyder, het Kokkedoor die vorige seisoen gevolg. Ek het elke keer gesê ‘ek kan dit doen’, en ‘nee hulle doen dit verkeerd, dit moet so gedoen word,’ ” het Ralph laggend vertel.

Martin het grappenderwys gedreig dat hy hom vir die volgende seisoen gaan inskryf, maar Ralph het daarteen geskop. “Een aand het Martin vir my vreemde vrae gevra oor sommige goed van my wat hy reeds geweet het. Toe ek weer sien, was hy halfpad klaar met my inskrywing. Ek het my nie juis daaraan gesteur nie, maar ‘n paar weke later het ek ‘n oproep gekry met ‘n uitnodiging na ‘n oudisie.”

Vir die eerste rondte oudisies moes Ralph iets voorberei en saamneem. Terwyl hy besig was om bokkaastertjies vir dié doel te maak, het die krag afgegaan. Sy buurvrou het vinnig haar gasstoof aangebied. Die tertjies was duidelik heerlik, want Ralph is gevra om ‘n omelet vir die tweede rondte oudisies te maak, en het daarna ‘n onderhoud met die vervaardigers gekry.

Hy is toe gekies as een van 30 deelnemers, waarvan 20 van hulle sogenaamde onthou-kokke was wat nie opleiding as kokke gehad het nie. Die ander 10 is kinkel-kokke genoem. “Ons het na drie dae soos ‘n familie begin voel. Almal wil nou weer bymekaar kom en goedjies reël, soos om kos te maak vir die gemeenskap.”

Ralph het genoem dat hierdie seisoen heeltemal anders gaan wees as die voriges. Die reeks is byvoorbeeld vanjaar by Kaappunt in plaas van op ‘n plaas geskiet.

Ralph werk tans by Safari Outdoor, en die vraag is wie hom leer kook het. “My ouma het ons grootgemaak,” het hy verduidelik, “Sy het altyd gesê: ‘ek wens ek het dogters, maar ek kan werk met die seuns’. Ons moes kos maak, al van so ses jaar oud af.” So het Ralph ‘n liefde vir kook ontwikkel, en het hy die beginsels wat hy by sy ouma geleer, gebruik en begin eksperimenteer deur ‘n klompie bestanddele by te voeg.

Ralph is te sien in Kokkedoor 3 op kykNET vanaf 18 Julie om 8nm. Krugersdorpers sal moet wag om te sien hoe ver Ralph gevorder het met sy natuurlike kookvernuf.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button