Helpende Hand Tzaneen bederf plaaslike bejaardes
Die Tzaneen-tak van Solidariteit Helpende Hand het onlangs die inwoners van Macadamia Sorgsentrum vir Bejaardes bederf met ‘n heerlike kuierdag by die sentrum.
DIE Tzaneen-tak van Solidariteit Helpende Hand het onlangs die inwoners van Macadamia Sorgsentrum vir Bejaardes bederf met ‘n heerlike kuierdag by die sentrum.
Elna Gouws, voorsitter van die Tzaneen-tak, vertel dat die taklede tee en kolwyntjies saam met die bejaardes geniet het, asook tydskrifte en wolpakkies aan hulle uitgedeel het.
“Die CVO-skool se kinders het volkspele vir die bejaardes gedoen en ‘n tienergroep genaamd Brandende Harte vir Jesus het ‘n mimiek-vertoning aangebied,” vertel Gouws.
“Die oupas en oumas het die volkspele so baie geniet en ‘n paar trane het sommer gevloei toe die tieners die Houtkruis-mimiek opgevoer het. Na die tyd het die tieners tee geskink en oud en jonk het te lekker saam gekuier.”
Gouws sê dat hierdie projek deel vorm van Helpende Hand se nasionale Ouma-en-Oupa projek.
“Helpende Hand fokus nie net op die finansiële armoede van bejaardes nie, maar ook op hul emosionele armoede,” sê sy.
“Ons sien gereeld dat bejaardes ‘n groter behoefte aan geselskap, liefde en kameraadskap het as enige iets anders. Baie van ons plaaslike bejaardes het nie ‘n eggenoot of kinders waarop hulle kan staatmaak om hul eensaamheid te verlig nie en daarom wil die Tzaneen-tak juis na hierdie inwoners uitreik.”
Persone wat graag by die Helpende Hand Tzaneen-tak betrokke wil raak, kan vir Marianthie van der Walt by 082 741 7858 skakel.