DIE matriekafskeid van die Hoërskool Ben Vorster het plaasgevind op Donderdag, 2 Oktober, op die skoolterrein.
Die matrikulante het aangekom met veteraanmotors, ‘n koets, ‘n ruiter op ‘n perd, ‘n motorfiets met sykar en ander blink voertuie van alle vorme en groottes. Die terrein, koshuiseetsaal en skoolsaal was stylvol in kristal, silwer, wit en room, 1920’s-styl. Elke matrikulant het die Vossies trots gemaak. Hulle was stylvol, afgerond en prentjiemooi. Die toesprake is afgehandel in die koshuis se eetsaal saam met die ouers.
Daarna is die ouers verskoon en het die matrikulante hulle gate uit geniet met kos en musiek uit die boonste rakke.
Die Vossies bedank graag elke lid van die gemeenskap wat kom deel het in die skouspel, elke matrikulant vir hulle goeie gedrag, die ouers vir hulle moeite met die klere, ens. en die graad 11-ouerkomitee en organiseerders vir ‘n baie stylvolle geleentheid.