Local newsNews

Die lewe met Ataksie

'n OUD inwoner van Tzaneen, Yolanda Botha vertel van haar stremmende siekte.

‘n OUD inwoner van Tzaneen, Yolanda Botha vertel van haar stremmende siekte.

Sy woon tans in Parys in die Vrystaat, en het met Vrouekeur, ‘n Caxton-tydskrif gesels.

“Ek het bedank om te voorkom dat ek afgedank word, want my werkgewers het gedink ek gebruik dwelms of drank.” Só vertel die 31-jarige Yolanda Botha, oor die tyd in 2012 toe sy met haar balans en spraak begin sukkel het.

Dit was as gevolg van serebrale degenerasie, of ataksie, wat in Grieks “sonder koördinasie” beteken.

Nie sy of die dokters het dit toe geweet nie. Sy is eers vanjaar daarmee gediagnoseer.

Sy vertel self hoe dié siekte haar lewe beïnvloed het.

“Ek het tuisonderrig ontvang en het op 16 matriek geskryf. Ek het by ‘n paar plekke bestuursposte beklee, het ‘n binnemuurse krieketbaan en verfbalonderneming besit. Ek was by welsynswerk betrokke en het minderbevoorregte kinders met hul huiswerk gehelp. Ek het aan allerhande sportsoorte deelgeneem, waaronder krieket en fietsry, en my eerste boek, Finding Faith, is op 21 gepubliseer. My lewe het egter handomkeer verander toe ek op ongeveer 27 begin siek word het.

“Toe ek in 2010 siek begin word het, kon die dokters nie vasstel wat fout is nie en ek is aanvanklik met sinusitis gediagnoseer. Ek het my motor verloor omdat ek noodgedwonge my werk moes bedank en ek geswartlys is omdat ek nie meer kon betaal nie. Geen werkgewer wou my ‘in my toestand’ aanstel nie.

“Toe ek in 2014 uiteindelik met serebrale ataksie gediagnoseer is, het ek nie geweet wat die siekte is nie. Ek het intussen uitgevind ataksie kan nie genees word nie, maar ek was nog altyd ‘n vegter en gaan nie opgee nie. Ek wil geld insamel vir ‘n stamseloorplanting, wat dalk kan help. Intussen oefen ek en eet gesond en vat dit ‘n dag op ‘n slag. Ek bly op die oomblik by my ouers op Parys.

“Ek wil vir ander van die siekte vertel omdat min mense daarvan weet en ek wil vir lyers sê om nie moed op te gee nie. Daar is mense, soos Kelly du Plessis van die Rare Disease Society van Suid-Afrika (RDSSA) wat kan help.”

Yolanda is besig om ‘n boek te skryf oor hoe dit is om met ataksie saam te leef en maak ook armbandjies wat sy verkoop om mense van ataksie en ander rare siektes bewus te maak.

Aan al haar Tzaneen vriende en kenisse het sy die volgende boodskap:

‘Dankie.

Hoe sê ‘n mens dankie

Aan ‘n dorp

Aan mense

Aan soveel omgee

Die lewe het my gestamp

Gestoot

Maar met my liefde uit Tzaneen

Sal dit my nie wen nie

So vandag sê ek dankie

Vir almal in Tzaneen.’

Bron: Vroukeur/CAXTON

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button